Post on 11-Jan-2020
1 | P a g e
RIDDERS OP REIS
MOSAMBIEK - JUNIE 2016
1. DIE REISVERHAAL
Reis in Afrika. Wat kan „n mens sê? Hare op jou tande en brandewyn in jou are. So „n ruk
gelede het ek „n storie geskryf oor Indië wat nie vir sissies is nie, maar sowaar Afrika ook nie.
Dit help ook as jy 'n baie lang geduld het, veral by die grensposte. Soms as ons so spook by
die grensposte, besluit Hans gewoonlik dit is die laaste keer. Nooit weer nie! Hoe lui die
Engelse uitdrukking: “Famous last Words!”, want as ons sien dan is ons maar weer oppad in
Afrika in. Dit is soos „n verslawing aan tjoklits en as die gogga jou eers gebyt het is daar geen
keer nie. Hierdie keer was ons in Mosambiek by Ponta Malongane in die suide van die land.
Hierdie pragtige plek is „n duikersparadys en duikers kom van heinde en verre om hier te
kom scuba. Dit is ook „n lieflike swemstrand met „n uitsig wat skrik vir niks. „n Ware paradys
en een van daardie plekke waarheen jy altyd wil teruggaan.
Die heerlikheid van hierdie
trippie, was dat ons saam met
Elsie se twee sussies en hulle
families gereis het. Iets wat ons
altyd baie geniet. Elsie en haar
twee sussies (Die Coetzees van
Ottosdal) is „n besondere hegte
familie en daar was nog altyd „n
baie spesiale band gewees tussen
die familielede. Veral die neefs en
die niggies is baie geheg aan
mekaar (sien Foto 1). Elsie se
oudste sus Annette, is met Peet
Venter getroud en die tweede sus Susarie, met Enslin van Velden. Soos ons, het beide
families ook 3 kinders waarvan daar slegs 3 nefies is (kroonwild volgens die tannies en ouma
Elsa). Daar het ook intussen twee aanhangsels (“plus ones”) bygekom in die Van Velden
huishouding en verder is daar twee toekomstiges in die Venter huishouding.
Omdat ons eers die Vrydag 11:30 kon ry nadat Elsie se skool gesluit het en dit 750km is tot
in Ponta Malongane, het ons besluit om in Piet Retief oor te slaap in die Bali Biasa gastehuis.
Ons kan werklik die gastehuis aanbeveel. Dit is bekostigbaar, netjies, skoon en baie veilig.
Die Venters en Van Veldens is reeds 3 uur die Saterdagoggend uit Pretoria weg en so het ons
mekaar dan 7:30 die oggend by die Wimpy in Piet Retief gekry. Daarvandaan het ons saam
gery en op Pongola ontbyt geëet. Die pad vanaf Pongola na die grenspos via Kosibaai is baie
besig en daar is groot gedeeltes wat jy stadig moet ry deur die beboude gebiede met etlike
spoedwalle in die pad, veral die laaste gedeelte nadat mens afgedraai het van die N2 af. Hou
maar by die spoedgrens, want hulle gaan jou roer as hulle jou vang en daar is baie dele waar
jy 60 of 80km/uur moet ry.
Foto 1: Niggie liefde!
2 | P a g e
Vanaf die grenspos tot by Ponta Malongane is dit 'n tweespoor sandpad van so ongeveer
13km. Jy ry in 4X4 die hele pad. Ons sleep ook 'n groot 4X4 wa en daarom moet mens nie te
rustig te wees nie. Maak maar bietjie spoed as dit „n opdraende is met lekker dik sand, want
jou momentum is
nogals belangrik as jy
in sand ry. Ry dit
maar in die dag en hou
jou voertuig die hele
tyd in 4X4. Blaas ook
jou bande af tot so
1.5Bar. Moenie „n tier
probeer wees en in
2X4 ry totdat jy vassit,
en dan jou voertuig
oorskakel na 4X4 nie.
Dit is moeilikheid
soek.
Ons het kamp
opgeslaan in die Ponta Malongane ruskamp en omdat swaer Peet en sy hele familie aktiewe
duikers is, het ons in die duikerskamp gebly wat aan die onderpunt van die ruskamp is. Ons
was in kamplek no. 48 gewees en het basies die hele dag koelte gehad met verskeie lieflike
groot bome op die kampplek (sien Foto 2).
Die 8 dae wat ons daar was is gevul deur luilekker dae op die strand, langs die vuur en op ons
kamp se stoepie waar ons gelees of kaart en yatsie gespeel het. Die eerste paar dae het ons
heerlike sonskyn weer gehad en daar is geswem en branderplank gery in die warm
Mosambiekse water. Swaer Peet en sy familie het ook twee keer gaan duik en verder wou ons
baie graag met een van die “Ocean Safaris” uitgaan om te snorkel en dolfyne te sien. As ons
natuurlik gelukkig sou wees. Die eerste dag wat ons wou uitgaan was die dolfyne egter meer
as 50km die diepsee in en het hulle ons afgeraai om te gaan. Die tweede keer was die see te
rof gewees en kon ons weer nie uitgaan nie. Dus sal dit moet wag vir „n volgende keer. Ons
het een van die oggende Ponta do Ouro toe gery en dit is so ongeveer 8km van Ponta
Malongane af. Dit is „n tweespoor sandpad en jy het „n 4X4 nodig. Daar is nie veel meer te
doen of te sien as by Ponta Malongane nie. Daar is darem „n kitsbank waar jy kan Meticais
trek, asook „n vulstasie met diesel en petrol. Verder is daar maar dieselfde informele winkels
as wat jy op Ponta Malongane kry.
Die tyd saam met ons dierbare familie in Ponta Malongane was fantasties. Dit is „n vakansie
wat ons vir enige een kan aanbeveel. Geniet die lieflike strand, swem in die see, duik of
snorkel. Gaan sit op die strand en kyk hoe kom die son op en gaan drink ietsie (“sundowner”)
by „n plaaslike kuierplek terwyl julle kyk hoe die son sak. Sit in die aande om „n lekker groot
vuur en drink „n wyntjie. Geniet die lekker weer en die stukkie vleis wat jy braai en moenie
vergeet om te gaan sterre kyk op die strand nie. Die plaaslike mense is juwele en gaan uit
hulle pad uit om vriendelik te wees en te help. Ondersteun hulle, want toerisme is vir baie van
hulle die enigste bron van inkomste. Ons het „n wonderlike tyd in Mosambiek gehad en sal
gou weer wil teruggaan. Verkieslik saammet ons familie en vriende.
Foto 2: Ons Kampplek.
3 | P a g e
2. HOE BEPLAN JY VIR REIS IN AFRIKA
Goeie vraag! Verwag altyd die onverwagte. Praat met ervare Afrika reisigers en nie ouens
wat dink hulle weet wat in Afrika aangaan omdat hulle eenkeer in Namibië was nie. Ons
swaer Peet Venter en sy familie het met hulle Cruiser op die ewenaar gaan draai. Hy ken
Afrika beter as suster Annette se kombuis. Hulle het in Afrika getoer lank voordat daar „n
hulpmiddel soos „n GPS was en is hardebaarde as dit by reis in Afrika kom. Peet is letterlik
soos „n lopende Afrika ensiklopedie en verder kan hy ook alles wat breek regmaak. Jy kan
dus maar luister wat hy sê. Hans is ook lief om Johan Badenhorst van Voetspore faam, se
boeke te lees. Hy is natuurlik die moderne David Livingstone en wat hy vergeet het van reis
in Afrika, moet outjies soos ons nog leer.
1. Die belangrikste is 'n deeglike lysie. Ons het met die jare 'n Afrika lysie saamgestel
met die hulp van swaer Peet se lysies asook uit ons vorige reise.
2. Begin voor die tyd beplan en pak. Moenie alles los vir die laaste paar dae nie. Jy gaan
nie betyds klaar kry nie, glo my as ek dit sê.
3. Maak seker jy het „n
ordentlike GPS met die kaarte
van “Tracks for Africa” ook
daarop gelaai saammet die
Garmin kaarte.
4. Sorg vooraf dat jou
voertuig en sleepwa in orde is
(sien Foto 3). Vat ekstra
spaarbande as dit moet. Sien ook:
“Wat om saam te neem”.
5. Kry jou kop reg vir die
grensposte. Moenie kwaad word
nie, moenie ongeduldig word nie,
moenie argumenteer met hulle nie. Drink voor die tyd „n chillpil en haal diep asem.
6. Vat kontant. Daar is nie baie plekke in Afrika waar jy met „n kredietkaart kan betaal
nie. Amerikaanse doller werk gewoonlik vir ons die beste.
7. Wenk: Vat ekstra klere en kos. Jy kom soms daarmee verder as betaalmiddel as wat
die geval is met geld.
8. Moenie alleen ry nie. Probeer om altyd 2 of 3 voertuie bymekaar te wees. Dit is slegs
die ou hardebaarde wat „n kans vat om alleen te ry. As jy alleen is in Afrika en iets
gebeur, het jy dalk meer probleme as wat jy kan hanteer.
3. WAT OM VOORAF TE DOEN
Elke reis verskil van „n volgende, maar hier volg „n paar basiese dinge wat mens vooraf kan
doen om die lewe vir jouself makliker te maak in Afrika.
Voertuig
1. Probeer altyd om jou voertuig te diens net voordat jy in Afrika reis. Maak veral seker
die 4x4 stelsels en sisteme werk honderd persent. Jy gaan nie baie lief wees vir jouself
as jy die dik sand slaan en jou voertuig se 4X4 werk nie.
Foto 3: Ons Jeep met die 4X4 wa
4 | P a g e
2. Maak seker op die AA se webwerf watter plakkers (stickers) is nodig vir jou voertuig.
Vir Mosambiek is dit „n ZA plakker regs agter en as jy iets sleep „n geel driehoek op
„n blou agtergrond regs voor. Wenk: As jy nie die plakkers op jou voertuig wil plak
nie, plak dit op „n magneetvel en knip dit uit. Dit werk heel goed en is logies nie
permanent nie.
3. Vir Mosambiek het jy „n swart baadjie met helder groen of geel strepe nodig. Dit
moet die hele tyd oor die bestuurder se sitplek hang. Koop een by Midas.
4. Kry jou voertuig se papiere gereed. Vat oorspronklike papiere en as jy afskrifte vat,
sorg dat dit gewaarmerk is. As jou voertuig aan die bank behoort, kry by hulle die
grensbriewe. Wenk: Ons voertuig is by WesBank en Hans kry sommer die
grensbriewe self op hulle webwerf. Hy vul net „n klompie inligting in en dan stuur
hulle die grensbrief as „n pdf lêer na jou e-pos adres toe.
5. Maak seker jy het die volgende in jou voertuig: Spaarband, domkrag, moersleutel,
“jumpers”, sleeptou, pomp wat van jou battery af werk, basiese gereedskap, band
drukmeter, stuff om bande mee reg te maak en rooi driehoeke.
Sleepwa
1. Dit is altyd goed om jou sleepwa se wiellaers (“wheel bearings”) te laat nagaan
voordat jy in Afrika invaar. Het al van vriende gehoor wat die sleepwa se wiel sien
verbykom het, terwyl hulle nog heerlik ry en na Dozi se “Ou Ryperd” luister.
2. Vat genoeg slotte saam om alles toe te sluit in jou wa. Vat ook „n ketting en „n
meneer slot om jou sleepwa vas te sluit aan „n boom of „n paal as dit nodig is.
3. Maak seker op die AA se webwerf watter plakkers (stickers) is nodig vir jou sleepwa.
Vir Mosambiek is dit „n ZA plakker asook „n geel driehoek op „n blou agtergrond.
Beide plakkers kom agterop jou wa.
4. Ek het „n spesiale hoë domkrag vir as die sleepwa „n papwiel kry. Dit is natuurlik
opsioneel.
Dokumente
1. Sorg dat jou paspoort nog geldig is en eers drie maande of langer na jou
terugkomdatum verval.
2. Wat die visum betref, kry jy gewoonlik in die Afrika lande „n stempel in jou paspoort
op die grens wat dien as „n visum vir drie maande. Dit is dan ook so vir Mosambiek.
3. As daar kinders jonger as 18 saam reis, moet jy hulle onverkorte (“unabridged”)
geboorte sertifikate ook by jou hê.
4. Ons het dit nog nooit nodig gekry nie, maar vat maar bewys van mediese versekering
saam. Vat ook jou medies lidmaatskapkaart.
Malaria Medikasie
1. Afrika is Malaria wêreld en ook daar waar ons nou was in die Suide van Mosambiek,
is die muskiete nie jou maat nie. Drie van hulle was besig om my skoonsuster
Annette Venter weg te dra, toe ons op hulle afkom en haar red.
2. Begin jou malaria pille drink voordat jy vertrek en onthou om dit saam te neem as jy
langer as „n week weggaan.
3. Belangrik ook om te onthou is dat jy „n doktersvoorskrif nodig het en nie net die
medikasie oor die toonbank kan koop nie.
5 | P a g e
Water
1. Vat genoeg drinkwater saam. My sleepwa het „n watertenk met „n kapasiteit van 60l.
Dit is handig om so „n tenk in jou wa in te bou vir die toekoms.
2. As alternatief kan jy ook sommer „n klomp 5l bottels koop en saamneem.
3. Daar is gebottelde drinkwater te koop, maar dit is aan die duur kant en nie altyd
beskikbaar nie. Dit is dus beter om jou drinkwater saam te vat.
4. WAT OM SAAM TE NEEM
Elke persoon of familie het hulle eie styl van kamp en daarom is dit baie moeilik vir ons om
in detail te spesifiseer wat alles saamgeneem moet word. Jy kan egter jou lysie verdeel in die
volgende hoofopskrifte en dan self die res invul. Ons gee enkele voorbeelde om te help:
1. Voertuie en sleepwaens
Bestuurderslisensies
Registrasiepapiere vir die grenspos
Sleeptou
GPS met kabels
“Jumper cables”
ens.
2. Kamptoerusting
Tente met pale, toue en penne
Gasbottels en stofie met vuurhoutjies
Stoele en „n tafel
Kampliggies
Matrasse en 12V opblaser
ens.
3. Ontspanning
Duik- of snorkeltoerusting
Rakette en balle vir die strand
Boeke om te lees
Speelkaarte en dobbelstene vir Yatsie
ens.
4. Medikasie
Pleisters en anti-septiese salf
Pille vir grille soos swaer Peet altyd sê (maag, hoofpyn, ander derglike pyne)
Pille vir allergie en bysteek
ens.
5. Algemeen
Kamera met genoeg geheue en selfiestok
Sambrele vir die strand
Visstokke, katrolle en viskas met hoeke, sinkers ens.
Selfoon en laaier
Muskiet branders (“coils”) en Peaceful Sleep
ens.
6 | P a g e
5. DIE GRENSPOS
1. 'n Afrikagrenspos is soos „n baie kwaai Uzbekistanse vrou met krullers in haar hare.
Jy weet nooit wat jy gaan kry as jy by die huis kom nie. Soms gaan dit relatief goed,
maar partykeer sak die son vir jou by „n Afrikagrenspos soos vir die De Ridders in
2010 by die Karibadam grenspos tussen Zambië en Zimbabwe. Ons is vir amper 4 ure
opgehou omdat my sleepwa nie „n enjinnommer gehad het nie. Regtig!!??
Verduidelik help niks. Ek het eventueel vir my „n enjinnommer vir my wa “gekoop”
vir 30 Amerikaanse doller. Dus het my wa nou „n enjinnommer, maar steeds nie „n
enjin nie. Belaglik man, absoluut belaglik.
2. Die Kosibaai grenspos is miskien nie so besig nie, maar korrupsie aan die Mosambiek
se kant is aan die orde van die dag. Jy betaal “invoerbelasting” as jy nie wil hê hulle
moet alles deursoek nie. Hierdie keer was dit R200 per voertuig.
3. Eerstens moet jy aan die Suid-Afrikaanse kant jou paspoort laat stempel en daarna
kyk hulle na jou voertuig en jou sleepwa se papiere. Onthou hulle soek die
oorspronklike papiere. Hulle is nie baie lief vir afskrifte nie, al is dit gewaarmerk.
4. As jou voertuig nog aan die bank behoort, moet jy grenspapiere by die bank kry
waarin jy toestemming kry om die voertuig oor die grens te neem.
5. Aan die Mosambiekse kant laat jy weer jou paspoort stempel. Wenk: Maak seker
hulle stempel wel jou paspoort. Daar is slegte stories van mense wat nie uit
Mosambiek kon terugkom nie, omdat hulle paspoorte nooit gestempel is nie. Jy moet
ook jou voertuig en jou sleepwa verklaar. Vul die nodige vorm in en handig dit saam
met jou voertuigpapiere in vir die nodige stempel en „n hekpas, anders kan jy nie ry
nie.
6. Jy moet ook derdeparty versekering uitneem. Dit kos jou enige iets tussen R300-
R500. Sorg dus dat jy kontant by jou het. Jy kan in Rand of Meticais betaal.
7. Dan begin die pret. Daar is poliesmanne wat rondstaan en wag om vir jou moeilike
vrae te vra en jou voertuig te deursoek. Partykeer gee hulle jou „n keuse. Hulle
deursoek alles of jy betaal “invoerbelasting”!! Natuurlik jou keuse. Wees rustig hier
en moenie nukkerig raak nie. Dit gaan nie werk nie!
6. VERBLYF
1. Ons het die eerste aand op Piet Retief geslaap. R300 per persoon on die Bali Biasa
Gastehuis. Pragtig, skoon en veilige parkering. Omdat ons vroeg die volgende
oggend wou vertrek, het hulle vir ons elkeen „n Wimpy Ontbyt Koopbewys van R50
gegee. Dit het ons perfek gepas. Ons het deur “Lekkeslaap” bespreek.
2. In Mosambiek het ons by
die Ponta Malongane ruskamp
(Parque de Malongane) gekamp
(sien Foto 4). Fantasties en heerlik
met lieflike groot koeltebome. Jy
moet vooraf bespreek. Besprekings
word gedoen in Suid-Afrika.
3. Daar is uitgemerkte
staanplekke met nommers en elke
staanplek het 'n kragpunt met Suid-
Afrikaanse driepunt proppe.
4. Die ablusieblokke is heel
aanvaarbaar en daar is gas geysers. Dus meeste van die tyd is daar warm water.
Foto 4: Ingang van die ruskamp
7 | P a g e
5. Die wonderlikste van die kampplekke is dat dit teen die see is. Ons was 'n volle 70
treë van die see af.
6. Daar is chalets beskikbaar op dieselfde terrein waar ons gekamp het. Ons kan
ongelukkig nie meer inligting daaroor gee nie. Ons is kampers en het as gesin van 5
gekamp teen R135 per persoon per dag.
7. EKSTRA HANDE
1. As jy inboek by die kantoor vra hulle jou of jy graag 'n kamphulp wil hê. Sê
onmiddelik ja. Dadelik! Sonder om tweekeer daaroor te dink.
2. Ortenz was ons engel gewees en het vir R100 per dag ons kamp en swaer Enslin en
swaer Peet hulle se kampe gediens. Sy sou dit vir R80 per dag doen, maar ons het
haar R100 gegee asook 'n bonus, ons orige kos en „n klomp klere.
3. Sy het skottelgoed gewas, ook die vorige aand s'n, die kamp gehark, tentseile
gevee, skottelgoed gewas, die vuurmaakplek skoongemaak en skottelgoed gewas.
4. Dit is vir die Mosambiekers ook „n bron van inkomste. Hulle is regtig arm en toerisme
is hulle hoofbron van inkomste. Ondersteun hulle sover moontlik asb.
8. GELDEENHEID
1. Die geldeenheid is Meticais en vir 'n rand kry jy so ongeveer 4.2 M (Junie 2016).
2. Jy kan meeste plekke in rand betaal, maar jy betaal defnitief meer. Probeer dus om in
Meticais te betaal indien moontlik.
3. Jy kan Meticais trek op Ponta do Ouro by die kitsbank met jou kredietkaart. Daar is
net gewoonlik „n lang ry, maar jy het mos tyd. Staan in die ry, eet neute en kuier met
die plaaslike mense. Hulle is baie vriendelik en oulik.
4. Jy betaal oral in kontant, maar by die duikklub kan jy met jou kredietkaart betaal. Dit
is as jy wil duik of op „n Ocean Safari wil uitgaan. As jy met die kredietkaart betaal is
dit in Meticais en dus goedkoper.
9. WAT IS BESKIKBAAR IN PONTA MALONGANE
1. Daar is op die kampterrein 'n baie klein winkeltjie wat koeldrank, ys en vars gebakte
brood of Pao, soos dit in Portugees bekend staan, aanhou.
2. Aan die buitekant van die kampterrein is daar allerhande "winkeltjies" waar jy bont
Mosambiekse broeke, houtbakke, t-hemde, aandenkings soos armbande en nog vele
meer kan koop.
3. Daar is ook winkeltjies wat die nodige kruideniersware, koeldrank, bier, Pao, vars
groente en vrugte ens. aanhou. Die Mosambiekers is lief vir brood bak. Jy kry oral
Pao te koop by klein bakkerye.
4. Jy hoef nie braaihout en charcoal te vat nie. Dit is oral te koop. Die hout is nie te
waffers nie, maar dit is lekker gesellig om in die aande by „n houtvuur te sit. As jy wil
braai, gooi net „n klompie van hulle tuisgemaakte charcoal op wat glad nie sleg is nie.
Dit maak lieflike kole.
8 | P a g e
10. AS JY DORS WORD
1. „n R en R is nou-al so sinoniem
met „n vakansie in Mosambiek soos die
Engelse sokkerspan met verloor. Koop vir
jou Tipo Tinto Rum vir R50 „n bottel en
koop dan Raspberry Koeldrank en maak
jou eie Rum en Raspberry (sien Foto 5).
By basies elke kuierplek in Mosambiek
verkoop hulle dit ook en pryse wissel
tussen R20 en R25 vir „n R en R. As jy dit
self maak, is dit natuurlik heelwat
goedkoper.
2. Die plaaslike bier is Dois M of 2
M. Baie lekker. Kos so R13 vir „n
botteltjie.
3. Koeldrank is oral te koop en jy betaal so R20-R25 vir „n twee liter.
11. MAALTYE
Ontbyt
Hier volg 'n paar lip-lek-lekker idees vir ontbyt:
1. Braai dun wors op die kole en gaan koop vars broodjies (Pao) by die winkeltjie. Sny
die Pao eers in die helfte en dan oop soos „n hotdog broodjie, smeer botter, sit die
gebraaide wors in en geniet. Jy kan ook bietjie blatjang of tamatiesous oorgooi (sien
fotos 6 en 7)
2. BraaiPaai: Koop 4 pizza basisse om saam te vat. Maak „n lekker vulsel met uie,
spek, kaas, gebraaide sampioene, Mocerella kaas en blatjang. Sit 2 basisse op die
rooster. Skep vulsel op en sit dan die ander basis bo-oor soos „n toebroodjie. Braai op
die kole (sien Foto 8).
3. Malongane sub: Vat 'n vars Pao en sny dit oop soos 'n hotdog broodjie en smeer dit
botter. Stop dit dan vol met gebraaide spek, kaas, gebraaide sampioene, roereier en
gooi blatjang oor. Eet jouself binne in 'n sooibrand in.
Foto 5: Legendariese R en R
Foto 5: Legendariese R en R
Foto 7: Dun wors op die kole
Foto 6: Vars Pao
9 | P a g e
Middagetes
1. Die meeste van die tyd eet
mens sommer „n broodjie of „n
vrug omdat ontbyt eers later in die
oggend geëet word.
2. Jy moet een middag by
Alex gaan pizzas eet wat in „n
selfgemaakte oond met 'n houtvuur
gebak word. Alex is „n Italianer uit
Florence se wêreld (of so sê hy) en
as daar mooi dames saam met jou
is, speel hy self kelner. Tipiese
Italianer. Die pizza‟s is baie lekker
en nie duur nie. Dit plek is buite die
ruskamp oppad na Ponta do Ouro.
3. Pak vir jou „n heerlike mandjie en hou piekniek op die strand.
Aandetes
1. Mosambiek is bekend vir sy garnale. Ons het in Ponta do Ouro gekoop vir R125 per
kilogram by „n man op straat wat dit in „n koelboks vol ys hou. Daar is ook 'n
viswinkel in Ponta do Ouro waar jy
R200 per kilogram betaal, maar dit is
bietjie aan die duur kant. Dus, soek
maar vir jou „n plaaslike man met „n
ysboks. Onthou net die garnale moet
nog skoongemaak word.
2. Braai die garnale in „n pan met
botter, knoffel en Aromat (sien Foto 9).
3. Jy braai basies elke aand, want
dit is heerlik om by vuur te
sit. Junie/Julie is lieflike weer in
Mosambiek. Vat dus genoeg vleis en
wors saam om te braai. Al braai jy jou maalvleis of jou weense worsies, is dit ook reg,
solank jy net braai.
4. Maak een van die aande „n potjie sodat jou gesin nie skeurbuik opdoen nie. Wenk:
Belê in „n liggewig aluminium potjie as jy baie reis. Die ou potyster is swaar en breek
maklik.
5. Ondersteun een van die plaaslike eetplekke. Hulle maak heerlike kos en daar is altyd
„n gesellige atmosfeer. Jy gee ook sommer die plaaslike ekonomie „n hupstoot.
12. WAT OM TE DOEN
1. Dit is vakansie so jy doen niks. Sit op die strand en lees of chill net en eet tjoklits.
Swem in die see, want die water is heerlik warm.
2. Dit is 'n duikersparadys. Daar is sestien riwwe in die Malongane area en bied dus „n
groot verskeidenheid aan die manne en vroue wat lief is vir scuba.
Foto 8: Mosambiekse BraaiPaai
Foto 9: Mosambiekse garnale
10 | P a g e
3. Wees laf en koop vir jou 'n bont Mosambiekse broek in die Malongane Mall, soos die
vrouens die paar informele winkeltjies gedoop het waar hulle en die niggies tog al te
graag inkopies gedoen het (sien Foto 10).
4. As jy nie „n duiker
is nie, bespreek vir jou „n
bootrit by die duikklub om
te gaan snorkel en dolfyne
te kyk.
5. Die houtdek kroeg
by die duikerskamp is
bekend vir die heerlike
atmosfeer wat daar heers
asook die pragtige uitsig
oor die Malongane Baai
(sien Fotos 11 en 12).
6. Staan vroeg op, vat
jou koffie, beskuit en jou
stoel en gaan sit op die strand en kyk
hoe kom die son op.
7. Vat die hele familie vir „n
skemerkelkie by een van die vele
kuierplekke. Ons was twee keer by
“Come to See” (sien Fotos 13). Kyk
hoe sak die son tipies Afrikastyl en
geniet die plaaslike musiekante.
8. Koop vir jou Cashew neute op die
strand en eet jouself dors. Onthou om
te stry oor die prys. Jy kry per-peri,
sout en geroosterde neute.
9. As dit laagwater is gaan
snorkel in die vlak poele by die
rotse.
10. Koop vir jou „n
handgemaakte vrugtebak en vir R10
ekstra kerf hy jou naam en die
datum op die bak. Pragtig!
11. Gaan stap langs die see. Jy
kan strandlangs stap tot by Ponta do
Ouro.
Foto 10: Die bekende bont broeke
Foto 11: Malongane Baai
Foto 12: Kroeg by die duikkamp
Foto 13: Skemerkelkie by Come to See
11 | P a g e
13. HOOGTEPUNTE
1. Die wonderlike tyd saam met ons familie. Familie is vir ons baie kosbaar en om saam
met hulle te mag reis is „n baie groot voorreg.
2. Die vars Pao wat ons elke oggend gekoop het en op „n verskeidenheid maniere tydens
ontbyt geniet het.
3. Die pragtige sonsopkoms oor die see in die oggende. Dit was elke oggend uniek en
anders.
4. Die aande om die braaivleisvuur. Fantastiese geselskap, goeie wyn en lekker kos. Die
lewe kan nie sommer beter wees as dit nie.
14. EK IS SPYT OOR...
...die feit dat ons nie kon uitgaan op die see en dolfyne gaan soek en snorkel nie.
Volgende keer.
15. ONTHOU
1. As jy in Afrika wil reis moet jy vooraf beplan en basies alles saamneem. Daar is nie
„n SPAR om die hoek nie.
2. Hou die paspoorte in „n veilige plek en pas hulle baie mooi op. As hulle wegraak het
jy jare se moeilikheid. Neem die inligting in jou paspoort af met jou selfoon of jou
iPad sodat jy afskrifte daarvan het.
3. Vat genoeg kontant as jy in Afrika reis. Kitsbanke is skaars en daar is nie baie plekke
wat jy met „n kredietkaart kan betaal nie. Vat ekstra klere en kos. Jy kom soms
daarmee verder as betaalmiddel as wat die geval is met geld.
4. “Travel and fill your life with experiences, not things. Have stories to tell, not stuff to
show.”
16. VYF KITSFEITE VAN MOSAMBIEK
1. Beide Mosambiek en Angola was voorheen Portugese kolonies gewees. Mosambiek
het in 1975 onafhanklik geword nadat dit reeds in 1498 deur die Portugese
gekolonialiseer is. Die amptelike taal in die land is Portugees.
2. Daar was „n aaklige oorlog in Mosambiek gewees (“Mozambican Civil War”). Die
oorlog het geduur vanaf 1977 tot 1992 en was tussen die regerende party (FRELIMO)
en Mosambiekse Weerstandsbeweging (RENAMO). Die oorlog het onherstelbare
skade aangerig aan die land en sy mense met meer as „n miljoen sterftes en
derduisende mense wat vermink is deur landmyne.
3. Daar bly tans ongeveer 26 miljoen mense in Mosambiek waarvan 56.1% Christene en
17.9% Moslems is. Mense is baie arm en slegs „n derde van die bevolking ouer as
vyftien kan lees en skryf. 4. As mens Engelse Scrabble speel, sal die woord “Mozambique” die meeste punte kry
van alle enkel-woord name van lande. Dit sal 34 punte verdien met “Kazakhstan” en
12 | P a g e
“Kyrgyzstan” in die tweede plek met 30 punte. “Mozambique” is ook die enigste
enkel-woord naam van „n land, wat al vyf die klinkers bevat.
5. Mosambiek het twee medaljes gewen by Olimpiese Speles in die verlede. Beide is
gewen deur Maria Mutolo in die 800 meter. In 1996 by die spele in Atlanta, V.S.A.
het sy brons gewen en in 2000 in Sydney, Australië die goud.
“Travelling leaves memories no one can steal!”
Die 5 ReisRidders
4 Julie 2016