80 Jaar van Genade OKTOBER 2018 -...
Transcript of 80 Jaar van Genade OKTOBER 2018 -...
1
Gereformeerde Kerk Innesdal
80 Jaar van Genade
OKTOBER 2018
JAARGANG 9 NOMMER 10: OKTOBER 2018
Redaksielede en medewerkers Naam Telefoon E-posadres
Seakle Godschalk 082 395 7582 [email protected]
Frans du Plessis 082 881 8280 [email protected]
Corrie Pretorius 072 741 7829 [email protected]
Elsa Godschalk 084 212 5773 [email protected]
Andries Buys 082 327 3006 [email protected]
Kerkkantoor
Sr Hettie Beetge: [email protected], tel 012 331 1230, faks 086 275 6815
Kantoor is in die huis langs die kerk.
Tye: Maandag, Woensdag en Vrydag (08:00-13:00)
Webadres: www.gksa-innesdal.co.za
Advertensies Besigheidsadvertensies kos R55 per kwartbladsy of R90 per halfbladsy per uitgawe. U advertensie
sal ook op die webblad geplaas word. Lidmate wat nie-besigheidsdienste wil adverteer, kan dit
gratis onder Klein Advertensies doen.
Bankbesonderhede
Lidmate wat bydraes direk in die kerk se bankrekening wil inbetaal, kan dit doen by Absa, Tak: Ben
Swartstraat, Rekeningnommer 050341801, naam Gereformeerde Kerk Innesdal (gebruik asb u naam
as verwysing vir die inbetaling).
Die Wingerdstok (of wynstok)
“Ek is die ware wynstok, en My Vader is die landbouer. Elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem
Hy weg; en elke loot wat vrug dra, dié maak Hy skoon, sodit dit meer vrug kan dra.”
“Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My
kan julle niks doen nie.”
Joh 15: 1, 2 en 5
1
INHOUDSOPGAWE
1. Van die Redaksie 1
2. Oordenking 2
3. Lief en leed 5
4. Welkom 6
5. Afskeid 7
6. Van die susters 7
7. Feesprogram 8
8. Ken Mekaar: Oom Teunis Lagerwey 10
9. Kerknuus uit Pretoria 14
10. Jaarprogram 14
11. Klassis 14
12. Manna in die woestyn 15
13. Skarlaken – die sap van Cochenille 20
Van die redaksie
Lidmate wat verkies om Die Wingerdstok per epos te ontvang in
plaas van ‘n hardekopie, word versoek om br Seakle Godschalk
by [email protected] in kennis te stel. U sal een kopie
per besoekpunt elektronies ontvang. Wanneer ander lede van ‘n
besoekpunt dit ook elektronies wil lees, kan dit enige tyd van die
webblad afgelaai word.
2
OORDENKING
Die Here maak ruimte dat ons vrugbaar kan wees
“Toe het hy vandaar versit en ‘n ander put gegrawe, en daaroor
is nie getwis nie. Daarom het hy dit Réhobot genoem en gesê: Ja,
nou het die HERE vir ons ruimte gemaak en kan ons vrugbaar
wees in die land.” (Gen. 26:22)
“En Isak het die putte weer oopgegrawe wat hulle in die dae van
sy vader Abraham gegrawe het, en wat die Filistyne ná die dood
van Abraham toegestop het, en dit genoem na die name wat sy
vader daaraan gegee het.” (Gen. 26:18)
“En hy het my getoon ‘n suiwer rivier van die water van die lewe,
helder soos kristal, wat uitstroom uit die troon van God en van die
Lam. In die middel van sy straat en weerskante van die rivier was
die boom van die lewe wat twaalf maal vrugte dra en elke
maand sy vrugte gee, en die blare van die boom is tot genesing
van die nasies.” (Open. 22:1-2)
Wat is jou toekomsplanne? Ouer mense het nogal die gewoonte
om vir matrieks te vra: en wat gaan jy volgende jaar doen, of –
wat gaan jy word? Dis beide ʼn maklike en ʼn moeilike vraag. Dit is
veel meer as ʼn vraag in die verbygaan. Ook vir die een wat die
vraag moet antwoord. Die vraag na die toekoms gaan oor
soveel meer as net die eie planne en begeertes. Die eintlike
vraag oor die toekoms is: Gaan jy ʼn put grawe? Gaan jy by
Rehobot uitkom?
Isak grawe ʼn paar keer putte. Telkens word hy verdryf
daarvandaan. Die Filistyne verstop die putte, ook die putte wat sy
pa gegrawe het. As hy dié oopgrou of selfs nuwe putte grawe,
dan word daaroor gestry. Die Skrif wil hiermee iets aandui wat
dikwels in die gelowige se lewe voorkom. Die heidens verdringing
3
en bedreiging. Die toestop van geleenthede en die wegdrywing
van lewensmoontlikhede en ruimte.
Die simboliek word baie duidelik as ons na drie woorde in bietjie
meer detail kyk:
Ten eerste – fontein: Dit is baie bekend vir ons in die Skrif. Die idee
van helder en suiwer water wat lewe moontlik maak en onderhou.
Dit beteken egter ook om helder sigbaar te word. Dit dui dus ten
diepste op lewensmoontlikheid, vir nou en ewig. Verder word
God self as die fontein van die lewe openbaar, soos in Ps. 36
staan: “Want U is die fontein van die lewe, in U lig sien ons die lig”.
Tweedens dan – Rehobot: Hierdie woord dui op wye oop strate,
selfs ʼn oop plein. Die idee van wyer maak, wyer oop maak is hier
belangrik.
Derdens noem ons – ruimte: Dit beteken om wyd te laat groei, om
groter te maak, dit dui ook oop weiding aan, en selfs om te
verbreed.
As die Here vir jou ruimte maak deur vir jou ʼn fontein te voorsien,
dan doen Hy dit met ʼn spesifieke bedoeling. Die rede vind ons in
die woorde wat Isak self sê nadat hy die put Rehobot genoem
het. Die rede dui God se bedoeling direk aan: om vrugbaar te
wees.
Om vrugbaar te wees gaan terug na die eerste opdragte wat die
mens van God ontvang het. Wanner God die mens direk
seënend aanspreek en sê: “En God het hulle geseën en gesê:
Wees vrugbaar en vermeerder en vul die waters in die see, en laat
die voëls op die aarde vermeerder.” (Gen. 1:22)
Ons moet die opdrag om vrugbaar te wees altyd verstaan saam
met die idee dat die aarde vol gemaak moet word. Hier beteken
dit egter nie maar net dat die aarde vol van mense moet wees
nie. Die mens en sy nageslag het ʼn bepaalde bedoeling. Die
aarde moet vol wees van die heerlikheid van die Here, en dis die
mense se lewenstaak om die heerlikheid van God regoor die
4
aarde te laat versprei. So staan dit onder andere in Ps 72:19 “En
geloofd sy vir ewig sy heerlike Naam! En laat die hele aarde met
sy heerlikheid vervul word! Amen, ja amen.” Selfs die engele roep
dit gedurig uit: “En die een het die ander toegeroep en gesê:
Heilig, heilig, heilig is die HERE van die leërskare. Die hele aarde is
van sy heerlikheid vol!” (Jes. 6:3)
Ons moet hier besonderlik let op die persoon en werk van die
Heilige Gees. Die Heilige Gees deur die Woord van God, verbind
Homself dikwels met die beeld van water, water wat laat groei.
Die Here Jesus dui aan hoe die mense wat in Hom glo, deel kry
aan hierdie lewewekkende en lewegewende krag van die Heilige
Gees. “Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende
water sal uit sy binneste vloei.” (Joh. 7:38) Geloof in Jesus Christus
laat mens uit die put, uit die fontein drink.
Dit is wat Isak profeteer met sy woorde: Die Here het vir my ruimte
gemaak, die Here gee Rehobot. Nie alleen dui dit op die
moontlikhede wat oopgaan nie, maar is dit inderdaad ook ʼn
profetiese uitspraak. Ons kan dit dus op twee maniere verstaan:
Sodat ons vrugbaar kan wees: daar bely ons ons geloof in God se
voorsieningsliefde. Maar ons mag ook die geloofsprofesie bely:
Ons sal vrugbaar wees. Daarmee spreek ons die
geloofsafwagting en verwagting van God se verbondseëninge
uit.
Dit is dié geloofsvisie wat deur die profesie aan Johannes as
openbaring gegee is. “In die middel van sy straat aan
weerskante van die rivier.” Uit God se troon stroom die lewende
water. Hy maak fonteine oop. Hy gee oop ruimte om sy
heerlikheid in uit te straal en uit te stal. Die vrugte van dankbare
aanbidding is betyds en volop. Elke maand is daar vrugte, die
hele jaar. Dis ʼn beeld van die kerk op aarde se hele lewe op die
aarde en in die hemel. God gee ruimte, God gee die
lewenswater van sy Woord en Gees. En wie dit glo, wie in Hom
glo, dat Hy ruimte gee, dan kom die vrugte te voorskyn. Die oes is
groot, en die blare van die boom is selfs tot genesing van die
nasies. Wat gaan jy doen na matriek? Wat gaan jy in die
volgende lewensfase doen?
5
As ons in die geloof Isak kan nasê dan mag ons ook versekerd
verklaar:
Ek gaan vir my in die geloof ʼn fontein oopgrawe waaroor nie
gestry word nie.
Ek gaan reken op die lewegewende water van God se
Woord en Gees. En dit indrink.
Ek gaan met my hele lewe vrugbaar wees.
Ek sien uit daarna om in my deel van die lewe die vrug van
die Gees te mag sien toeneem en groei.
Ek weet – omdat ek die naam Rehobot ken – dat God nie sal
ophou, voordat die hele aarde vol is van sy heerlikheid nie.
Wat gaan jy volgende doen?
Gaan jy ʼn put grawe? Gaan jy by Rehobot aandoen?
Amen
[Dr. A.L.A. Buys. Preek gelewer by die Matriekdiens by GSDP, 18
Oktober 2018]
LIEF EN LEED
Geluk aan ons oudste lidmaat, sr Mina Booyens, wat op 24
Oktober haar 91ste verjaarsdag gevier het. Ons is dankbaar dat
die Here haar nog met ‘n helder verstand seën, al kan sy nie meer
eredienste bywoon nie. Sy is baie bekommerd oor haar
agterkleinkind, Divinette, van wie ons gereeld in Die Rekord lees
waar hulle oor haar stryd om herstel na ‘n gebarste blindederm
berig.
Ook geluk aan br Martin en sr Lynette Boerrigter met die geboorte
en doop van hulle agste kleinkind.
Sterkte aan almal wat eksamens skryf, in die besonder Karmien
Buys en Lucinda Botes wat besig is met hulle matriekeksamen.
6
Ons vra ook almal se voorbidding vir drie lidmate wat met kanker
gediagnoseer is en behandeling ondergaan: Sr Christine Olivier, sr
Anna de Beer en br Werner Joubert.
Ons dink ook aan sr Marian van Geer wie se man, Jan, steeds
ernstig siek is.
Sr Rieneke Verlinde herstel nog van ‘n dubbele
knievervangingsoperasie. Dit lyk of dit goed afgeloop het.
Sr Henna Delen sukkel al drie maande om die nagevolge van
griep af te skud, en het nog voortslepende keelinfeksie.
Br Chris Human se twee katarakoperasies het suksesvol afgeloop,
maar toe moes hy inderhaas ‘n dokter soek om ‘n groeisel in sy
voet uit te sny – dit was toe ‘n splinter wat binne die voet ’n sist
gevorm het.
Br Carel Vos gaan binnekort hospitaal toe vir ‘n
mantelvliesoperasie.
WELKOM
Amspdraers
Die volgende broeders is in die amp van diaken bevestig. Hulle
word die Here se seën ophul dienswerk toegebid.
Br Gert van der Walt in Wyk 06
Br Francois Keulder in Wyk 07
Nuwe intrekkers
Met attestaat het oorgekom van die G K Boksburg:
Br Teunis en sr Carlien Lagerwey, 27ste Laan 253, Villieria, 0186. Tel.
no. 012 403 0737/Sel. 082 899 9102. E-posadres
[email protected]. (Wyk 03)
7
AFSKEID
Die volgende ampsdraers het eervol ontslag uit die amp van
ouderling ontvang:
Br Thys Olivier (Wyk 02)
Br Louis Engelbrecht (Wyk 06)
Br Louis Buys (Wyk 07)
VAN DIE SUSTERS
Sustersafsluiting: 1 Desember 2018
Die afsluiting van die susters vind DV op 1 Desember 2018 plaas.
Plek: Afro-Boer, Die Wilgers. Meer inligting sal later deurgegee
word.
Saamtrek 2019
Die susters van Gereformeerde Kerke Oos-Moot en Die Kandelaar
nooi julle hartlik uit na volgende jaar se saamtrek vir die Pretoria-
streek.
DATUM: 9 Maart 2019
TEMA: Om-gee-wingsbewus – God se kinders gee
om vir sy skepping
PLEK: NG Kerk Magalieskruin
Volledige inligting volg vroeg volgende jaar. Hou solank die
datum oop!
8
Innesdal se 80 jarige-feesprogram
Dis tyd om fees te vier! – Vrydag, 16 November tot Sondag, 18
November 2018 …
Die program toon al die tye van die onderskeie items en
gebeurtenisse oor Vrydag, Saterdag en Sondag aan. Die
volgende inligting is om vrae, wat moontlik kan ontstaan rondom
sekere items op die program, te beantwoord:
VRYDAG
Vrydagaand se Bring-en-Braai:
Daar word vure verskaf.
Die volgende moet elkeen onthou:
- Eie vleis
- Eie drinkgoed
- Eie eetgerei
- Elkeen bring bykosse wat gedeel word
Die animasie, fliek uit die toentertyd se skatkis en die laataand
aksiefliek is ‘n verrassing vir die Vrydagaand ná 19:00 …
SATERDAG
Saterdagoggend vroeg sal daar koffie beskikbaar wees. Bring jou
eie beskuit en kom geniet ‘n vroeë boeretroos.
Die volgende reëlings rondom die ontbytkompetisie kan
deurgegee word:
Die mense wat teenwoordig is, gaan in groepe verdeel word om
die hoërskooljeug opdraende te gee. Hulle daag die ander
groepe uit om hulle te kom wen. Drie beoordelaars is teenwoordig
en die wenners sal ook ‘n prys ontvang.
Elke groep ontvang die volgende:
- Eiers
- Dun worsies
9
- Spek
- Vrugte
- Yoghurt
- Plaatkoekie-mengsel
- Roosterkoek-mengsel
- Potbroodmengsel
- Sap
- Voorgeskrewe kruie
- Elke groep is welkom om nog drie ekstra bestanddele te
gebruik
Elke groep moet verder hulle eie tafel versier met drie borde en
eetgerei vir die drie beoordelaars. Stoele vir die beoordelaars is
natuurlik ook vanselfsprekend!
Ander benodighede om die ontbyt voor te berei, moet deur elke
groep self voorsien word, bv. eie gastoerusting, plate, braaiers,
opskepbakke, eierspane, opskeplepels, ensovoorts. Vure word
weer voorsien indien ‘n groep hierdie opsie sou verkies.
Die lesing om 11:00 handel oor die verbondsgetrouheid van die
HERE. Dr Wikus gaan hier voor. Baie misverstande oor die kerk
vandag se wortelprobleem lê juis hierin gesetel dat die verbond
van God misverstaan word. Kom luister gerus!
Rondom 16:00 word die feesrede deur dr Wikus gelewer. Daar
gaan ook ‘n klipstapeling wees. Die feesrede handel rondom die
klipstapeling – kom luister om jou nuuskierigheid te stil …
‘n Lekker skaapbraai wag om 18:00. Slegs jou eie drinkgoed is
nodig. Alle ander benodighede word wel voorsien. Jyself moet
natuurlik ook daar wees!
SONDAG
Voor die nagmaaldiens om 9:30 sal daar reeds vanaf 8:00 koffie
en muffins beskikbaar wees.
10
Die program dui verder al die ander tye aan. Ná die aanddiens is
daar ‘n Kersprogram en Kerssang. Om 19:30 sal die feesprogram
in die saal afgesluit word …
ALGEMEEN
Elkeen word weereens uitgenooi om op die kerkterrein te kom
kamp. Bring jou eie tent en kom kuier saam. Geen stortgeriewe is
beskikbaar – bring jou eie skotteltjie om in te was …
Sap word wel by die ontbyt voorsien, maar verder moet elkeen
sorg vir hul eie drinkgoed. Daar is wel gratis water in die krane
beskikbaar …
Almal word hartlik uitgenooi! Die ouderlinge en diakens het
kaartjies beskikbaar – hulle sal met hulle lidmate skakel. Indien jy
met jou diaken of ouderling in die verband self wil skakel, is jy
natuurlik baie welkom … Die diakens nooi ook enigeen uit wat nie
die bedrag in geheel of gedeeltelik kan bekostig nie … neem
asseblief vrymoedigheid en skakel met jou wyksdiaken of
wyksouderling in die verband.
Die oproep kom na almal – wees daar en kom geniet ‘n
dankbaarheidsfees oor genoeg genade oor 80 jaar …
Oudl Andries Buys
Ken Mekaar: Teunis Lagerwey – ‘n dankbare terugblik!
‘n Rukkie terug nog het sekeres gesê hy het Alzheimer’s – die
chroniese neurodegeneratiewe siekte. ‘n Ouetehuis het hom selfs
toegang geweier omdat hy gekla het dat die sewende gebod
oortree word deurdat sy vrou saam met ander vrouens en ‘n man
in ‘n kamer ingedeel is. Die bejaarde oom Teunis is reeds 86 jaar
oud en gesels land en sand vir amper twee ure lank oor sy
interessante lewe van geboorte tot nou … ‘n opwindende
11
lewensverhaal met baie genade. ‘n Dankbare terugblik borrel uit
sy mond en niks skort met sy geheue nie …
Oom Teunis Lagerwey is op 26 Januarie 1932 op ‘n plaas naby
Nylstroom in die omgewing van die Waterberge gebore. (So
terloops: Lagerwey is afgelei van uiten Legerwegen met die
betekenis - vanaf die Laaglande.) Al was sy pa (Aart Lagerwey) ‘n
bees- en waatlemoen-boer, was hy ook ‘n bekende orrelis in die
omgewing – ‘n talent wat oom Teunis ook gekry het – hy speel
vandag nog orrel – met my volgende huisbesoek sal ek die
voorreg hê om dit te hoor.
Oom Teunis se pa (Aart) is in 1897 in die Laaglande in Nederland
gebore en immigreer in 1926 na Suid-Afrika. Ná sy verloofde ná
die Tweede Wêreldoorlog aan Spaanse griep oorlede is, het hy
Suid-Afrika as toevlug geneem. Aart ontmoet uiteindelik sy vrou,
Cornelia Magdalena Erasmus (Corrie) in die nuwe land, Suid-Afrika
– blykbaar verlangs familie van die bekende Erasmusse, waarna
die beroemde Erasmus-huis vernoem is.
Oom Teunis het op 17-jarige ouderdom sy Bosveld-tuiste op
Nylstroom verlaat en twee jaar voltyds by NKP in Pretoria gaan
studeer. Ná twee jaar het hy gaan werk en deeltyds by Tukkies
voortgegaan om sy BSc-graad te voltooi. ‘n Rukkie later in 1953
het die 20-jarige Carolina Willemina (gebore Swanepoel) met
oom Teunis in die huwelik getree – hulle is in die huwelik bevestig
deur ds (later Prof) GCP van der Vyfer. Vir oom Teunis is sy al jare
sy Carlientjie, en vir ander het sy die naam Carien of selfs Lina
gekry. Sy is nie meer dag en nag aan oom Teunis se sy nie - sy
word tans as ‘n Alzheimer-pasiënt in ‘n versorgingseenheid in
Pretoria versorg. Oom Teunis woon nou saam met sy jongste
dogter Lidia en haar man Anler de Vries daar hoog teen die berg
– soos Anler sê, dis hier soos ‘n plaas met al die stiltes waar
natuurgeluide die stil oomblikke om jou vir rukkies onderbreek.
Anler is ‘n skoonseun wat weet hoe graag sy skoonpa
gereformeerde preke wil hoor en daarom sorg hy ook dat oom
Teunis steeds onder daardie soete klank van ware
Woordverkondiging bly.
12
Oom Teunis en tannie Carlientjie het drie dogters – die oudste
Marina (*1954), die middelkind Corné (*1956) en die jongste, Lidia
(*1960). Marina bly ook in Pretoria, maar oom Teunis sien haar
ongelukkig maar min.
Oom Teunis was al die jare gereformeerd en vir hom is dit maar
hartseer dat die gereformeerde samesyn van sy gesin nie meer
daar is nie … party is vir eers sonder ‘n kerk en ‘n ander is weer by
die Liewe Jesus-mense soos hy dit uitdruk …
Oom Teunis het onder andere by die Buro van Standaarde en die
Spoorweë gewerk, maar hy was maar in hart en siel ‘n metallurg
en skeikundige. Sy verste werkplek in sy lewe was die twee jaar in
Noord-Rhodesië (Zambië vandag). Dis ook hier waar hy die eerste
keer as ouderling in een van die twee gereformeerde gemeentes
verkies is – dit was in die bedieningstyd van Ds Koos Venter.
In 1960 keer oom Teunis terug na Suid-Afrika en die Wes-
Transvaalse mynaanlegte rondom Klerksdorp/Stilfontein-
omgewing sou sy nuwe uitdagings as tegniese assistant word. Hier
was hy betrokke by die raffinering van mynprodukte. Dis ook toe
hy my ‘n interessante wetenskaples oor uraan in verband met
isotope 235 en 238 en iets van ‘n 9 kilogram-uraan vir ‘n
atoombom, leer …
‘n Twaalf jaar tydperk in die warm Phalaborwa by ‘n fosfaatmyn
as metallurgiese assistant het vir hom nuwe horisonne laat sien.
Hier was hy weer ds Koos Venter se lidmaat.
In 1974 begin hy by YSKOR werk. In hierdie tyd was hy baie op die
pad om by die 9 YSKOR-myne foutontledings te doen. Die Rosh
Pinah-sinkmyn in die Suide van die destydse SWA was een van sy
baie besoekpunte. Hy was tot met sy aftrede in 1993 deel van die
YSKOR-span.
‘n Baie interessante storie oor die flokkulasie van ystererts, waar
yster en silika van mekaar geskei word, het tot my ore gekom.
Indringende navorsing is hieroor gedoen en daar is byna tou
opgegooi om soos in Amerika dit ook in Suid-Afrika reg te kry.
13
Oom Teunis het vir ekstra tyd gepleit om nog ‘n laaste keer te
probeer – ná die inwerking van die Heilige Gees en dringende
gebed en smekinge, soos hy dit wil erken, het oom Teunis ná
deeglike studie van ‘n Amerikaanse geskrif in verband met die
ystererts-flokkulasie die letters tussen die baie woorde in hierdie
Amerikaanse navorsing raakgesien: die flokke sak uit na 4 minute –
dit klink baie tegnies, maar blykbaar skei die yster dan van die
silika as die regte verhouding stysel toegedien word. Sy werk en
intensiteit van sy werk het drasties van een toets per week na 10
kere per dag gestyg – alles, met een doel voor oë om die regte
verhouding te vind om uiteindelik die verlangde skeiding te
bewerkstellig. En met harde werk en die Here se krag het hy toe sy
antwoord kon gee … ‘n deurbraak wat hy altyd sal onthou!
Na sy suksesvolle YSKOR-jare keer hy terug na waar hy vandaan
kom – Nylstroom! Hy begin met hoenders boer, maar sy
braaikuikens word in ses weke slegs een kilogram swaar in plaas
van 1,6 kg. Hy kry maar R1 vir sy maer kuikens, terwyl R10 ‘n
winsgewende prys vir goeie braaikuikens is … Geduldig, sonder
om sigbaar die hoenders in te word, dwing die gebeure hom op
sy knieë en word hy ‘n bestuurder van ‘n suksesvolle hoenderboer
naby Cullinan. Toe hy uiteindelik Pretoria toe verhuis, word hy
onder andere lidmaat in Oos-Moot-gemeente waar ds Faan Smit
die predikant was. Ná ds Faan Smit se bedieningstydperk in Oos-
Moot, met sy vertrek na Pietersburg-Noord as predikant, het hy
ingeskakel by Totiusdal waar ds Stavast die leraar was (en vandag
nog is).
In die ouderdom word die pa en ma weer soos kinders en moet
hulle maar baie keer gedweë luister na hul kinders se voorstelle.
Siektes en ander beproewinge dwing die oumens baie keer op
ander paaie as wat beplan word. Só wyk oom Teunis en tant
Carlientjie na Kemptonpark waar hul dogter Corné is. Met die
tannie se Alzheimer’s en ‘n heupbreek na ‘n val en oom Teunis se
krampe in sy heup en sy moeilike loop, is hulle na ‘n
versorgingseenheid in Boksburg. Hulle verblyf daar was maar van
korte duur.
14
Uiteindelik bevind oom Teunis en sy vrou hulle in Pretoria – maar
op twee verskillende plekke: oom Teunis se liefste Carlientjie in ‘n
inrigting en hy by die huis in die berg. Dis hier waar hy geduldig en
gedwee, dag vir dag, sy vol lewe in die stiltes van die natuur,
tussen die mooi voëltjiestemme deur, oor en oor vir hom in sy siel
herhaal … en dan sou ‘n mens hom ook kon vra: waarom? … dan
sal hy ook sê: omdat God dit só wou …
Welkom in Innesdal - oom is terug waar oom jare gelede was!
Andries Buys
KERKNUUS UIT PRETORIA
Die Kandelaar en Rietvallei. Beide gemeentes het ds Frikkie van
Rensburg van Rustenburg-Noordoos beroep.
JAARPROGRAM
Br Andries en sr Marietjie Buys het verhuis en hulle nuwe adres is:
Starkeylaan 1348, Waverley, 0186. Selno’s: 082 273 3006/073
197 4131;
E-posadresse: [email protected]/
[email protected] (Wyk 09)
Br Theunis Ströh se selnommer is nou 082 775 6031 (Wyk 08)
Klassis Die Moot
Die klassisvergadering het op 18 September 2018 by ons
gemeente plaasgevind.
15
Dr Wikus Buys en ouderling Louis Engelbrecht was afgevaardigdes
van Innesdal. Behalwe laasgenoemde, het ouderling Louis Buys
ook die klassissitting meegemaak.
Min sake het gedien. Die belangrikste saak was in verband met
die opstel en volvoering van ‘n beswaarskrif teen die
Gereformeerde Kerk Wapadrand in verband met hul hantering
van die sinodebesluit rondom die vrou in die amp.
Die streeksinode sal DV op Dinsdag, 20 November 2018 om 9:00 by
die Gereformeerde Kerk Wierdapark vergader. Geen kerkraadslid
van ons gemeente is afgevaardig nie.
Oudl Andries Buys
MANNA: BROOD UIT DIE HEMEL
Agtergrond
Die uittog uit Egipte het plaasgevind op die veertiende dag van
die maand Abib: dit moes voortaan as die eerste maand van die
jaar geld [Eks 12: 2]. Die maand Abib het saamgeval met ons
Maart/April. Ons skat dus dat die uittog einde Maart vroeg April
plaasgevind het. Weens hulle haastige vertrek uit Egipte kon die
volk Israel nie ingesuurde deeg of enige ander padkos saamvat
nie. Hulle het dus van die deeg wat hulle uit Egipte gebring het,
ongesuurde koeke gebak [Eks 12: 39]. Teen die vyftiende dag van
die tweede maand na die uittog [dus ongeveer einde April vroeg
Mei] – ‘n maand na die uittog – toe hulle êrens tussen Elim en die
berg Sinaï was, het hierdie eerste voorraad kos seker begin opraak
en begin die Israeliete kla oor hulle honger begin word. Hulle
gaan selfs so ver om Moses en Aäron te verwyt: “Het ons maar in
Egipteland deur die hand van die HERE gesterwe toe ons by die
vleispotte gesit en volop brood geëet het! Want julle het ons in
hierdie woestyn uitgelei om hierdie hele vergadering van honger
te laat sterwe” [Eks 16: 3]. Dan sê die HERE vir Moses dat Hy vir
hulle brood uit die hemel sal laat reën [vs 4]. ]. Verder sê Moses
aan die volk dat die Here hulle in die aand vleis sal gee om te eet
16
en in die môre volop brood [vs 8]. ]. Daardie aand het daar
kwartels opgekom en die laer oordek. En in die môre was daar
manna [vs 13].
Manna
Die manna was fyn soos ryp op die grond, en korrelrig [vs 14]. Dit
was wit soos koljandersaad en het soos heuningkoek gesmaak [vs
31]. Volgens Numeri was die manna soos koljandersaad en het dit
na balsemgom gelyk. Die volk het dit gemaal of fyngestamp, dit in
potte gekook en roosterkoeke daarvan gemaak wat soos
oliekoeke gesmaak het [Eks 16: 23; Num 11: 7-8]. Wanneer de dou
snags op die laer val, het die manna ook daarop geval [Num 11:
9]. Wanneer die doulaag in die oggend vroeg opgetrek het, het
die manna sigbaar geword [Eks 16: 14]. As die son warm word, het
dit weggesmelt [Eks 16: 21].
Toe die Israeliete dit vir die eerste keer sien, vra hulle verbaas: Wat
is dit [in Hebreeus man hu]? Want hulle het dit nie geken nie [Eks
16: 15, Deut 8: 3 en 16]. Toe sê Moses vir hulle dis die brood wat die
Here hulle gee om te eet [vs 15]. Die verbaasde uitroep by die
sien van hierdie onbekende kos het gelei tot die naam MAN of
manna [vs 31].
Die volk moes elke dag net genoeg manna vir een dag se
behoefte optel [een gomer, 2.2 liter, per persoon], behalwe die
sesde dag wanneer hulle twee dae se voorraad moes optel en
voorberei sodat hulle nie op die sabbat moes kos insamel of
voorberei nie [Eks 16: 4-5, 16, 22-26, 29-30]. Hulle moes alles op
dieselfde dag opgebruik en mog niks laat oorstaan tot die
volgende dag nie [vs 19], anders sou dit wurms inkry en sleg word,
behalwe op die sabbat [vs 20, 24].
Vanaf ‘n maand na die uittog uit Egipte totdat hulle by die grens
van die land Kanaän gekom het, het die volk Israel elke dag
manna geëet – veertig jaar lank [vs 35]. Op die dag veertig jaar
na die uittog, net nadat hulle die Jordaan oorgetrek het, het die
volk by Gilgal hul eerste pasga gevier. Die dag daarna het hulle
vir die eerste keer van die land Kanaän se oes geëet. Die
17
volgende dag het die manna opgehou (letterlik staan daar: ge-
sabbat) [Jos 5: 10-12]. Ons weet nie wat die manna was nie. Daar
is al probeer om ‘n natuurlike verklaring daarvoor te gee. Sulke
pogings is tot mislukking gedoem as mens in ag neem dat die volk
[wat uit honderdduisende, indien nie miljoene nie persone
bestaan het] vir 40 jaar elke dag manna geëet het. Dis was ‘n
wonderwerk wat nie op natuurlike wyse verklaar kan word nie.
Lesse van die manna
Wat was die Here se doel met die manna?
Eerstens natuurlik om Sy genade aan Sy volk te bewys deur hulle
vir 40 jaar lank kos te gee in ‘n woestyn waar daar beslis nie
voldoende kos vir soveel mense was nie.
Maar die Here het ander bedoelings ook daarmee gehad. In sy
afskeidsrede tot die volk Israel net voordat die Here hom sou
wegneem, lig Moses ‘n sluier oor wat God se bedoeling met die
manna was. Die Here het die volk met opset laat honger ly om
hulle te beproef of hulle aan Hom gehoorsaam sou wees. Hy het
hulle toe manna gegee om te eet sodat hulle sou verstaan dat
die mens nie van brood alleen lewe nie, maar van alles wat uit die
mond van die Here uitgaan [Deut 8: 3, 16]. Sodoende sou hulle
besef dat hulle elke dag van God afhanklik sou wees en nie op
eie krag sou vertrou nie [vs 17].
Maar die volk het nie na die Here geluister nie en nie op Hom
vertrou om hulle elke dag hul brood te gee nie. Party het daarvan
laat oorbly tot die volgende oggend [Eks 16: 20]. Ander weer het,
nadat hulle ‘n dubbele porsie op die sesde dag ontvang het,
steeds op die sabbat uitgegaan om manna bymekaar te maak
[vs 27]. Beide hierdie oortredings het die volk se ongeloof
geïllustreer en Moses baie kwaad gemaak [vs 20, 28]. Die Here
straf die oortreders deur wurms te stuur in manna wat tot die
volgende dag bewaar was [vs 20]. Christus het ons later hierdie
daaglikse afhanklikheid van God vir ons versorging weer geleer,
wanneer Hy ons leer bid: “Gee ons vandag (of elke dag) ons
daaglikse brood” (Matt 6: 11; Luk 11: 3).
18
Die eentonige dieet van manna het die volk nie aangestaan nie
[Num 21: 5 – ons siel walg van ellendige kos]. Na ‘n jaar begin
hulle moeg word vir die eentonige spyskaart van manna en
verlang na vis en die verskeidenheid groentesoorte wat hulle in
Egipte geëet het [Num 11: 4-6]. Hulle versoek God in hul hart deur
voedsel te vra na hul sin [Ps 78: 18]. Dan straf die Here hulle met ‘n
oormaat van kwartels wat tot baie se dood lei [Num 11: 31-34].
Die manna moes ook dien tot gedagtenis aan die Here se
versorging van Sy volk. Moses het vir Aäron beveel om een gomer
manna [die dagporsie vir een persoon] in ‘n kruik te gooi en dit
voor die Ark van die Getuienis in die tabernakel neer te sit om vir
die nageslag bewaar te word sodat hulle die brood kon sien wat
die Here die volk in die woestyn laat eet het [Eks 16: 32-34].
Wanneer die skrywer van die brief aan die Hebreërs ‘n beskrywing
van die tabernakel gee, lees ons dat dit ‘n goue kruik was waarin
die manna gebêre was [Heb 9: 4]. Die twee bekende psalms wat
die verbondstrou van die Here besing, verwys albei na die
geskiedenis van die manna. In Psalm 78 sing Asaf dat God die
deure van die hemel oopgemaak het en manna op die volk Israel
laat reën het en koring van die hemel aan hulle gegee het. Die
volk het die brood van die engele geëet; God het hulle volop
padkos gegee [Ps 78: 23-25]. Ook die digter van die bekende
Psalm 105 sing dat God die volk versadig het met hemelbrood [Ps
105: 40]. Na die terugkeer uit ballingskap vier die Jode vir die
eerste keer sedert Josua weer die loofhuttefees. Later die maand
hou hulle ‘n vas- en biddag om hulle sondes te bely. Tydens dié
geleentheid staan agt Leviete op die verhoog en gee aan die
volk ‘n les uit die geskiedenis. Hulle verwys onder andere na die
Here se versorgende hand oor die volk toe Hy hulle brood uit die
hemel laat eet het. Ondanks hul hardnekkige verset teen God,
het die Here het die manna nie uit hulle mond teruggehou nie en
het Hy hulle veertig jaar lank in die woestyn versorg [Neh 9: 15, 20-
21].
19
Christologiese perspektief
Die volk Israel se reis deur die woestyn het in baie opsigte
simboliese betekenisse. Wanneer die Satan die Here Jesus in die
woestyn wil versoek om brood van klippe te maak om sy honger
te stil, haal Jesus Moses se bogenoemde woorde aan: Die mens
sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke word wat deur
die mond van God uitgaan [Matt 4: 4; Luk 4: 4].
Nog belangriker is wanneer Jesus Christus die geskiedenis van die
manna op Homself van toepassing maak in sy preek wat volg op
die eerste vermeerdering van die brode. Die Jode vra ‘n teken en
sê dat God die manna as brood uit die hemel aan hul voorvaders
gegee het. Dit was vir hulle ‘n baie belangrike teken. Dan pas
Jesus dit op Homself toe en sê: Ek is die brood van die lewe. Die
Israeliete het manna geëet en gesterwe. Maar wie na Hom kom,
sal nooit weer honger word nie maar lewe tot in ewigheid. Die
manna in die woestyn was dus afskaduwing van die ware brood
van die lewe wat sou kom in die vorm van die Seun van God. Die
brood wat Hy sou gee, is sy eie lewe [Joh 6: 30-58]. Hierna verwys
die brief van Christus aan die gemeente Pergamus: Aan hom wat
oorwin, sal Ek gee om te eet van die verborge manna. Die
gelowiges sal deel hê aan die ewige brood van die lewe, naamlik
Christus. Die verborge dui op die geestelike, hemelse karakter van
die manna, in teëstelling met die aardse karakter van die manna
in die woestyn [Openb 2: 17].
Watter openbaring van God se troue versorging van sy
verbondsvolk kry ons nie in die geskiedenis van die
wonderbaarlike voorsiening van daaglikse manna aan die volk
Israel vir veertig jaar lank. En watter diepe betekenis kry dit nie in
die Brood van die Lewe, ons Saligmaker Jesus Christus.
Br Seakle Godschalk
20
SKARLAKEN - DIE SAP VAN DIE COCHENILLE
Cochenille is vir baie van ons plaasmense nie onbekend nie. Hierdie
insek van die dopluisfamilie val veral blare van turksvye aan en kan
later die hele plant doodmaak. Vir boere wat turksvye as veevoer
aanplant, kan dit ‘n groot pes wees. Vir omgewingsbewaarders wat
die doringturksvy as indringerplant moet beheer, is dit ‘n bondgenoot,
wat hulle selfs aktief versprei. Veral in die Ooskaap waar doringturksvye
duisende vierkante kilometers ingedring het en met die inheemse veld
kompeteer, sien mens baie turksvye wat erg met cochenille besmet is
en op pad is om dood te gaan.
Wat minder bekend is, is dat die cochenille ook dikwels in die Bybel
voorkom. Nie dat mens die woord ‘cochenille’ sal aantref nie. Maar
die sap van die cochenille, Coccus ilicis, word gebruik as die kleurstof
“skarlaken”. Die Griekse woord wat in die Bybel as skarlaken vertaal
word, kokkinos, het in Engels “cochineal’ geword. In Arabies word
hierdie insek kirmiz genoem wat weer gelei het tot die Engelse woord
“crimson”, wat die bloedrooi kleur van skarlaken aandui.
Cochenille word volop op eikebome [‘holm oak trees’] in Palestina
aangetref (Jes 44: 14). Ongeveer 400 000 insekte word benodig om
een kilogram kleurstof te vervaardig. Dus was dit ‘n duur produk. Tog
was dit nie heeltemal so duur soos purper wat spesiaal vanaf Tirus
ingevoer moes word en nie plaaslik vervaardig kon word nie. Daarom
is dit vir ‘n groter verskeidienheid doeleindes aangewend. Skarlaken is
veral gebruik om wol te kleur. Dit was een van drie basiese
kleurstowwe wat in die Bybelse tyd gebruik was, naamlik purper,
skarlaken en bloupers of hemelsblou [“hiasint”].
Die tabernakel en die tempel. Skarlaken is vir dieselfde doel as en
gewoonlik saam met purper gebruik.
Reiniging. Bykomend hiertoe is dit egter ook vir reinigingsdoeleindes
gebruik. Tydens die reiniging van ‘n melaatse en sy huis is onder
andere skarlakendraad gebruik [Lev 14: 4, 6, 49-52], terwyl
skarlakendraad ook gebruik was tydens die offer van die rooi koei as
sondoffer in Num 19:6. Heb 9: 19-22 beskryf vir ons dat skarlaken ook in
die algemeen vir reiniging van die volk gebruik was.
21
Merk van draad. Skarlaken was ook gebruik om gekleurde draad te
maak om bepaalde sake te merk. Tydens die geboorte van die
tweeling van Tamar word ‘n bloedrooi [skarlaken gekleurde] draad om
die hand van die baba wat eerste sy hand uitgesteek het, gesit [Gen
38: 28 en 30]. Ragab hang ‘n skarlaken gekleurde draad by haar
venster uit om aan die verspieders te wys waar sy bly [Jos 2: 18 en 21].
Hierdie gewone gebruik van skarlaken gekleurde draad bevestig ook
vir ons dat dit nie heeltemal so kosbaar as purper was nie.
Koninklike en ryksmansklere. Behalwe talle plekke waar purper en
skarlaken saam genoem word [sien vorige artikel oor purper], sing
Dawid in sy klaaglied by Saul en Jonatan se dood dat Saul die dogters
van Israel met skarlaken weelderig beklee het [2 Sam 1: 24]. Jeremia
kla dat “die wat op purper en skarlaken gedra is, nou die ashope
omarm” om daarmee die ellende en verarming van die volk aan te dui
[Klaagl 4: 5]. Hy sê ook dat al sou Juda skarlaken klere aantrek en haar
mooi maak, dit tevergeefs is - haar minnaars versmaad haar [Jer 4: 30].
Die dapper manne wat teen Ninevé sal optrek, is in skarlaken gekleed
[Nahum 2: 3]. Let ook daarop dat in Matt 27: 28 en Luk 23: 11 die
mantel wat die soldate om Jesus se skouers gegooi het, as skarlaken
aangedui word terwyl dit in Markus en Johannes as purper aangedui
word. Dit het egter dieselfde betekenis - naamlik dat dit koninklike
eerbetoon simboliseer.
Simbool van sonde. Jesaja gebruik die bloedrooi kleur van skarlaken
on die sonde van die volk aan te dui in kontras met die wit van sneeu
as hulle sondes afgewas en vergewe is [Jes 1: 18].
Bloedrooi lippe. Salomo vergelyk die bloedrooi lippe van sy bruid met
skarlaken band [Hoogl 4: 3].
Net soos purper was skarlaken duur en’n gesogte kleurstof. Dit is vir ‘n
verskeidenheid doeleindes soortgelyk as purper aangewend, maar het
ook bykomend spesifieke simboliese betekenis gehad - veral sonde en
die reiniging daarvan. Ons sien dus dat die Here ook hierdie natuurlike
produk gebruik om Sy openbaring te verryk. Dink weer eens hieraan as
u cochenille op turksvye sien!
Seakle Godschalk
22