vir die eksamen
Graad 12
deur Gerda Kleynhans
Wenke wat werk Kom in RAT vir al drie vraestelle deur die volgende dokument noukeurig te lees.
VRAESTEL 1 TAAL IN KONTEKS 70 punte 2 uur
Afdeling A: Leesbegrip (30 punte) Vraag 1
Jy gaan ‘n leesteks van 700 – 800 woorde kry en ‘n grafiese/visuele teks wat tematies daarby
aansluit.
Vergelykende vrae sal oor die twee tekste gevra word. By die visuele teks word daar op visuele
aspekte gefokus. Gebruik sowat 50 minute van die 2 uur vir dié afdeling.
Wenke:
Jou begrip van dit wat jy lees, word getoets. Lees dus die teks baie aandagtig deur. Jy
kan selfs met jou vinger onder die woorde lees om jou aandag te fokus. Lees dan die
vrae deur en dan die teks vir ‘n tweede keer.
Lees elke vraag twee keer om seker te maak wat gevra word. Onderstreep die
kernwoorde van die vraag.
Antwoord nét dit wat die vraag vra. Indien jy een woord moet gee, moenie ‘n sin
neerskryf nie. Moet ook nie ‘n “inleiding” skryf nie, byvoorbeeld: Die woord is …
Kyk na die puntetelling van elke vraag. Indien jy moet motiveer en die vraag tel 2 punte,
sal jy twee motiverings moet gee.
‘n Eenwoord-antwoord se spelling móét korrek wees.
JA/NEE, EK STEM SAAM/EK STEM NIE SAAM NIE, WAAR/VALS of FEIT/MENING tel
nié ‘n punt nie. Net die motivering tel punte, maar jy moet jou antwoord met een van die
keuses begin.
Wanneer een/twee feite vereis word en jy skryf meer as een/twee, word net die eerste
een/twee nagesien en die res van die antwoorde geïgnoreer.
Antwoord presies en spesifiek. Moenie vaag of lomp antwoord nie.
‘n Frase is net ‘n gedeelte van ‘n sin wat net lank genoeg is om die vraag te
beantwoord – nie ‘n hele sin nie.
Onthou om aanhalingstekens te gebruik indien jy uit die teks moet aanhaal.
Indien ‘n vraag meer as een aspek vra (stapelvrae) , antwoord in die volgorde van die
vraag.
Ken/verstaan die volgende:
Die verskil tussen vluglees en soeklees
Hoofgedagte (kerngedagte) en ondersteunende gedagtes
Evalueer
Kontrasteer
Feit en mening
Geïmpliseerde betekenis
Denotasie en konnotasie
Sosio-politieke en kulturele agtergrond van tekste
Gevoels- en manipulerende taal
Stereotipering
Partydigheid
Vooroordeel
Oorredingstegnieke (veral by visuele tekste)
Doel en teikengroep van ‘n teks
Wisseling in lettertipe en –grootte
Afdeling B: Opsomming (10 punte) Vraag 2
Die doel van ‘n opsomming is om die kernfeite van ‘n leesstuk van ongeveer 350 woorde in 90
woorde op te som. Jy moet sewe feite in jou eie woorde en in nét een paragraaf weergee.
Gebruik sowat 30 minute vir dié afdeling.
Gaan só te werk:
Lees die opdrag aandagtig om vas te stel wat jy moet opsom. Moenie aanvaar dat jy die
hele teks moet opsom nie.
Lees die hele leesstuk aandagtig deur.
Lees die leesstuk ‘n tweede keer en identifiseer en merk die sewe kerngedagtes of
kernfrases.
Maak jou eie volsin van elke kerngedagte.
Tel die woorde van jou sewe feite.
Indien jy meer as 90 woorde het, laat voorbeelde en onnodige beskrywings uit.
Indien jy baie min woorde het, maak jou feite vollediger totdat jy nader aan 90 woorde is.
Onthou die volgende
Jy hoef nie ‘n titel te gebruik nie. Indien jy wel een gebruik, moenie dit saam met jou
woorde tel nie.
Moenie ‘n inleidingsin skryf nie. Begin dadelik met die feite.
Moenie hele sinne woordeliks uit die teks afskryf nie. Gebruik net kernfrases uit die teks
en maak jou eie sinne daarmee. Moet ook nie probeer om die hele teks te herskryf nie.
Jy verdien nie ‘n punt vir ‘n feit wat as ‘n hele sin woordeliks uit die teks afgeskryf is nie.
‘n Feit in ‘n onvolledige sin of in SMS-taal verdien nie ‘n punt nie.
Vir huistaal word die opsomming in een paragraaf aangebied en nie in ‘n ander formaat
nie.
Skryf die reels vol, van kantlyn tot kantlyn. Indien jy ‘n groot spasie aan die einde van ‘n
reël ooplaat en dan weer in die volgende reël skryf, mag dit dalk soos ‘n nuwe paragraaf
lyk.
Dui die korrekte getal woorde wat jy gebruik het, aan. Nasieners is verplig om die
woorde te tel.
Jou finale opsomming moet baie netjies wees. Moenie doodtrek of telmerkies by woorde
maak nie. Doen dit in jou beplanning.
Trek jou voorfinale poging dood, anders word die eerste weergawe nagesien.
Opsommings word nie in die direkte rede of in die eerste persoon geskryf nie.
Moenie afkortings gebruik nie.
Getalle van 0 – 10 word in woorde geskryf en vanaf 11 in syfers.
Skryf die feite in die opsomming liefs in die volgorde van die teks.
Afdeling C: Taalstrukture en –konvensies (30 punte) Vraag 3 – 5
Gebruik sowat 40 minute vir die afdeling.
Vraag 3 (10 punte)
Een of twee advertensies word gevra en die vrae handel oor visuele en geskrewe aspekte van
die advertensie.
Vraag 4 (10 punte)
Een of twee strokiesprente bestaande uit een of meer raampies.
Vraag 5 (10 punte)
Een leesstuk van 150 – 200 woorde.
Leerwerk:
Woordeskatuitbreiding, woordeskatontwikkeling en taalgebruik
Kontaminasie, toutologie, analogie, pleonasme, volksetimologie.
Erfgoed, leengoed (leenwoorde), eiegoed (nuutskepping/neologisme)
Herkoms van woorde
Anglisisme
Betekenisleer en figuurlike taal:
Sinonieme, antonieme, paronieme, polisemie, homonieme, homofone, doeblette, een woord vir
‘n omskrywing, beeldspraak (vergelyking, metafoor, personifikasie), stylfigure (oksimoron,
metonimia, klanknabootsing, hiperbool, kontras, ironie, satire, humor, sarkasme, antiklimaks,
klimaks, simboliek, eufemisme, litotes, paradoks, sinekdogee, sinestesie, antitese,
antonomasia, elisie, woordspeling) en idiomatiese uitdrukkings/ idiome/ spreekwoorde.
Woordvorming:
Voorvoegsels, agtervoegsels, stamme/basisvorme, kern en bepaler, simplekse, komplekse,
afleiding, samestelling, samestellende afleiding en klinkerwisseling.
Klankleer en spelling:
Klanke (konsonante, vokale, diftonge, affrikate, klankverskynsels), spelpatrone, spelreëls,
klankgrepe, lettergrepe, afkortings, verkortings en akronieme.
Skryftekens: Afkappingsteken, koppelteken, deelteken, kappie, klemtekens (akuut/gravis), hakie
en parentese.
Woordsoorte
Lidwoorde: Bepaald en onbepaald
Selfstandige naamwoorde: Soortname (meervoude/ verkleining/ geslag), eiename, abstrakte
selfstandige naamwoorde, versamelname, massaname, maatname, selfstandige naamwoorde
wat afgelei word van ander woordsoorte, selfstandige naamwoorde in vrye en vaste
verbindings.
Telwoorde: hooftelwoorde, rangtelwoorde.
Voormaamwoorde: aanwysend, persoonlik, onpersoonlik, besitlik, betreklik, vraend, onbepaald,
wederkerend, wederkerig.
Werkwoorde: Tyd (teenwoordig, toekomende en verlede tyd, historiese teenwoordige tyd),
hoofwerkwoorde/selfstandige werkwoorde (oorganklik, onoorganklik, onpersoonlik,
wederkerend), hulpwerkwoorde (tyd, wyse, vorm), koppelwerkwoorde, deeltjiewerkwoorde
(skeibare en onskeibare werkwoorde), infinitief, werkwoorde wat van ander werkwoorde afgelei
is, werkwoorde in vrye en vaste verbindings.
Deelwoorde: Teenwoordige (onvoltooide) deelwoorde, sterk en swak verlede (voltooide)
deelwoorde.
Byvoeglike naamwoorde: Attributiewe en predikatiewe byvoeglike naamwoord, verbuiging van
byvoeglike naamwoord, letterlike (denotatiewe) en figuurlike (konnotatiewe) gebruik, trappe van
vergelyking, intensiewe vorme, byvoeglike naamwoorde in vrye en vaste verbindings.
Bywoorde: Tyd, plek, wyse, modaliteit, bywoorde wat van ander woordsoorte afgelei is,
bywoorde in vrye en vaste verbindings, trappe van vergelyking.
Voorsetsels: Plek, tyd en rigting, voorsetsels in vaste en vrye verbindings.
Voegwoorde: Neweskikkende en onderskikkende voegwoorde, voegwoordelike bywoorde.
Tussenwerpsels
Sinsleer
Enkelvoudige sin: onderwerp, gesegde, voorwerp, byvoeglike en bywoordelike bepalings.
Woordorde
Sinsoorte: stel-, bevel-, vraag-, uitroepsin (eksklamasie).
Saamgestelde sinne: hoofsinne en bysinne (byvoeglik, bywoordelik, onderwerpsin, voorwerpsin,
gesegdesin).
Veelvoudige sinne: hoof- en neweskikkende sinne.
Direkte en indirekte rede.
Lydende en bedrywende vorm (aktief en passief).
Ontkenning
Sinswyse: aanwysend, aanvoegend, vraend, gebiedend.
Verbindingswoorde in sinne en paragrawe
Woorde wat die volgende aandui:
Chronologiese verloop (eerstens, tweede, voordat, nadat, volgende, ter afsluiting)
Verduideliking/ oorsaak en gevolg (daarom, omdat , as gevolg van, aangesien)
Proses (eerstens, tweedens)
Vergelyking en teenstelling (verskillend, kleiner as , maar)
Orde van belangrikheid (altyd, ter afsluiting)
Ruimte en oriëntering (bo, onder, links)
Veralgemening (oor die algemeen, normaalweg)
Eie standpunt (volgens my, na my mening, ek glo, ek verkies)
Klassifikasie (is verwant aan, inpas by, gegroepeer)
Beskrywing (grootte, kleur, vorm, gewig, spoed)
Evaluering ( goed, immoreel, belangrik)
Definisie (word omskryf as, gedefinieer as)
Samevatting (opsommenderwys, ten slotte, kortom)
Leestekens/punktuasie
Komma, vraagteken, dubbelpunt, kommapunt, aandagstreep, aanhalingstekens, uitroepteken,
ellips (beletselteken), asterisk.
Kritiese taalbewustheid
Feit en mening
Direkte en geïmpliseerde betekenis
Denotasie en konnotasie
Sosio-politieke en kulturele agtergrond
Verhoudings tussen taal en mag
Die invloed wat seleksie en weglating op betekenis het
Gevoels- en manipulerende taal, partydigheid, vooroordeel, diskriminasie, stereotipering,
taalvariëteite, afleidings, aannames, argumente.
Wenke:
Moet nóóit ‘n antwoord ooplaat nie. Waag ‘n antwoord!
Gee baie aandag aan spelling, leestekes en sinskonstruksie.
Nommer in die middel en begin antwoorde teen die kantlyn skryf. Antwoorde wat
ingebondel is, sien moeilik na.
Skryf baie netjies en leesbaar.
Trek ‘n lyn na elke afdeling en begin elke afdeling met die nommer van die vraag en die
afdelingnaam as opskrif.
VRAESTEL 2 LETTERKUNDE 80 punte 2½ uur
Afdeling A: Poësie (30 punte) Vraag 1 – 5
Vier voorgeskrewe gedigte waarvan TWEE gedoen moet word. (2 x 10 = 20)
Vraag 1: Opstelvraag van 250 – 300 woorde.
Vraag 2 – 4: Kontekstuele vrae.
JY HOEF NIE DIE LITERÊRE OPSTEL VIR POЁSIE TE DOEN NIE.
Vraag 5: Ongesiene gedig (10)
Hierdie kontekstuele vraag is verpligtend.
Leer:
Jy moet al 12 die voorgeskrewe gedigte baie goed ken asook literêre begrippe.
Kwatryne
Die skedel lag al huil die gesig
‘n tipe epistemologie van water
Nuus uit die binneland
Busrit in die aand
Die huis luister
“last grave at dimbaza”
Safari
Een sprong vir …
Vroegherfs
Sonsverduistering
Staat
Wenke:
Gebruik jou 10 minute leestyd om te besluit watter twee voorgeskrewe gedigte jy gaan
doen.
Lees vraag 2, 3 en 4 se vrae en kies dan die twee waarvan die vrae vir jou die maklikste
en doenbaarste is.
Lees vrae behoorlik voordat jy antwoord en onderstreep dit wat gevra word.
Hou die puntetelling van ‘n vraag in gedagte. ‘n Vraag wat 3 punte tel, kan nie met een
feit beantwoord word nie.
As jy al die literêre begrippe en aspekte ken, sal jy in staat wees om die vrae oor die
ongesiene gedig te beantwoord.
Lees die onvoorbereide gedig verskeie kere voordat jy die vrae beantwoord.
Afdeling B: Prosa (25 punte) Vraag 6 – 11
Manaka Plek van die Horings / Die Kwart-voor-sewe-lelie / Vatmaar
Jy het ‘n keuse tussen ‘n literêre opstel of ‘n kontekstuele vraag. Indien jy by die prosa ‘n
kontekstuele vraag doen, moet jy by die drama die literêre opstel doen, of andersom.
INDIEN JY ‘N KEUSE FOUT MAAK EN BYVOORBEELD KONTEKSTUELE VRAE OOR DIE
PROSA EN DIE DRAMA DOEN, WORD NET DIE PROSA VRAAG NAGESIEN EN DIE
DRAMA SE KONTEKSTUELE VRAAG DOODGETREK.
Afdeling C : Drama (25 punte) Vraag 12 – 15
Krismis van Map Jacobs / Mis
Jy het ‘n keuse tussen ‘n literêre opstel of ‘n kontekstuele vraag. Indien jy by die drama ‘n
kontekstuele vraag doen, moet jy by die prosa die literêre opstel doen, of andersom.
Kontekstuele vrae:
Nommer altyd in die middel en begin teen die kantlyn skryf.
Beantwoord net wat die vraag vra.
As een woord/rede/sin/verduideliking, ensovoorts gevra word en jy gee meer as een, word die eerste een nagesien en die res geïgnoreer.
Indien jy ‘n vergelyking moet gee, noem beide kante van die saak.
Indien die vraag ironie vra, moet jy maar in jou antwoord hê.
‘n Frase is ‘n gedeelte van ‘n sin: meer as een woord en net lank genoeg om die antwoord te bevat.
‘n Aanhaling moet tussen aanhalingstekens geskryf word.
Indien ‘n vraag vra of jy saamstem en dan moet motiveer, moet jy eers ja of nee sê en dan die motivering gee. Dieselfde geld vir feit/mening, ensovoorts. Die JA/NEE tel nie ‘n punt nie, net die motivering.
Kyk na die puntetelling van vrae. Vir elke punt moet daar ‘n feit wees.
Stapelvrae word toenemend gevra en een vraag kan tot 4 punte tel. Elke aspek van die vraag moet in volgorde beantwoord word.
Literêre opstel: Lengte : 400 – 450 woorde In hierdie opstel reageer ‘n skrywer vertolkend, evaluerend, nadenkend en selfs persoonlik op ‘n
literêre teks. Argumente word aangebied en ondersteun of geïllustreer deur na die teks te
verwys. ‘n Persoonlike respons kan in sommige opstelle gevra word.
Ken die volgende aspekte:
Intrige en subintrige/spanningslyn
Karakter en karakterontwikkeling
Karakterisering
Innerlike en uiterlike konflik
Rol van die verteller
Temas en boodskappe
Agtergrond en milieu en invloed daarvan op karakter en tema
Stemming, ironiese wending/afloop
Tydsverloop (chronologies, terugflitse, tydspronge
PVI/PIV ‘n Opstel bestaan uit gemotiveerde argumente (feite). ‘n Argument (feit) word gemotiveer
deur ‘n verduideliking of voorbeeld. Albei is ook toelaatbaar. Jy hoef dus nie by elke
argument/feit ‘n voorbeeld en ‘n verduideliking te gee nie!
Ontleding van vrae:
Lees die vraag ten minste twee maal aandagtig om seker te maak watter sillabusaspek(te) gevra word.
Nommer die onderafdelings wat dan jou “kapstokke”/aspekte van bespreking (en paragrawe) sal vorm.
Onderstreep die werkwoord in die opdrag, byvoorbeeld: bepaal/vergelyk/evalueer/bespreek.
Beplanning MOET gedoen word - kolomme/paragrawe/volledige spinnekop.
Moets en moenies
Jy moet beplan!
Trek jou beplanning dood nadat jy jou finaal geskryf het, anders word jou eerste stuk in die afdeling nagesien.
Skryf baie netjies en leesbaar; moenie doodtrek in jou finaal nie.
Jy MOET ‘n inleiding skryf – dit is nie deel van die eerste aspek/kapstok nie.
Jy MOET ‘n slot skryf – nie deel van die laaste aspek nie.
Alle aspekte van die vraag moet aangespreek word.
Elke aspek van die opstel word in ‘n aparte paragraaf behandel.
Moenie argumente (feite) merk of nommer nie.
Moenie die opstel met Hy/Sy begin nie. Begin eers met die persoon se naam voordat jy die persoonlike voornaamwoord gebruik.
Spel eiename korrek
Taal en styl tel 40% van die punt.
Indien die titel van die roman gebruik word, veral in die inleiding, word dit onderstreep en nie tussen aanhalingstekens geskryf nie.
Skryf die titel volledig en korrek.
Praat van die roman of verhaal, nie van die storie nie.
Moenie afkortings gebruik nie.
Moenie SMS-taal gebruik nie.
Moenie ‘n “patroontjie” volg nie. ( Baas is ‘n goeie mens want hy sorg vir die mense byvoorbeeld hy gee vir die twee vrouens ‘n blad van die vlakvark sonder dat hulle daarvoor betaal.)
MOENIE kolpunte gebruik nie.
MOENIE subopskrifte gebruik nie.
Dit is nie nodig om direkte aanhalings te gebruik nie. Moenie jou eie opmaak nie. Aanhalings moet verkieslik frases wees en deel van sinne vorm.
Die taalgebruik is formeel, maar nie hoogdrawend nie.
Skryf in die TEENWOORDIGE TYD.
Wees objektief, tensy jy gevra word om ‘n persoonlike mening te gee.
Indien jou mening gevra word, moenie ja/nee antwoord nie. Dit is nie ‘n kontekstuele vraag nie.
Tel jou woorde tydens beplanning. MOENIE te veel woorde gebruik nie.
VRAESTEL 3 SKRYF 100 punte 2½ uur
Afdeling A: 1 Opstel (50 punte)
Lengte: 400 – 450 woorde
Verhalend/ beskrywend/ argumenterend/ bespiegelend/ beredeneerd
Daar sal 8 onderwerpe wees waaruit jy ʼn keuse mag maak. Twee of drie van die onderwerpe sal visuele prikkels wees.
Afdeling B: 2 Transaksionele tekste (2 x 25 = 50 punte)
Jy moet twee opdragte in hierdie afdeling kies. Lengte: 180 – 200 woorde Tipe tekste wat gevra kan word: Ses onderwerpe sal gegee word Vriendskaplike brief/formele brief Versoek/aansoekbrief/besigheidsbrief/klagtebrief/simpatiebrief/gelukwensingsbrief/dankie-brief) formele of informele brief aan die pers. Curriculum Vitae met dekbrief/ (kombinasie kan ook gevra word)/huldeblyk Formele verslag/informele verslag/resensie/koerantberig/tydskrifartikel/agenda en notule van ʼn vergadering (kombinasie daarvan kan ook gevra word) Formele toespraak/informele toespraak/dialoog/geskrewe onderhoud SORG DAT JY AL DIE FORMATE 100% KORREK DOEN AANGESIEN JY BAIE PUNTE VERLOOR INDIEN JY FORMAATFOUTE MAAK.
Onthou:
Begin ELKE afdeling op ʼn NUWE bladsy.
Jy moet beplan, redigeer en proeflees. Die beplanning moet VOOR die opstel geskryf/aangebied word.
Alle beplanning moet duidelik aangedui word. Dit is raadsaam om ʼn streep deur die beplanning te trek.
Jy word sterk aanbeveel om jou tyd soos volg te bestuur: AFDELING A: ongeveer 80 minute AFDELING B: ongeveer 35 x 2 minute
Nommer jou skryfstukke in ooreenstemming met die nommeringstelsel wat in die vraestel gebruik word.
Jy moet jou skryfstuk van ‘n titel/opskrif voorsien, maar dit word nie by die voorgeskrewe getal woorde bygereken word nie.
Skryf netjies en leesbaar.
Top Related