'n Studie van Psalm 119

19
‘n Studie van Psalm 119 (Tertius Fourie, 2021) 1 ’n Studie van Psalm 119 deur Tertius Fourie © Kopiereg voorbehou (T. Fourie, 2021) Inleiding Psalm 119 is die langste Psalm in die Bybel en strek oor 22 strofes waarin 176 verse voorkom. Dit is ’n Psalm wat baie maklik vermy word omdat dit so lank is. Ons lewe in ’n tyd waar mense ’n kitsoplossing vir alles soek en ongelukkig benader baie mense die Bybel ook so. Elkeen van die 22 strofes in Psalm 119 is met ’n letter van die Hebreeuse alfabet gemerk. By elke strofe stem die eerste letter waarmee die strofe begin ooreen met die letter waarvolgens die strofe gemerk is. Die primêre fokus van hierdie artikel is om hierdie Psalm strofe vir strofe te ontleed en dan op die algehele tema of boodskap te let.

Transcript of 'n Studie van Psalm 119

Page 1: 'n Studie van Psalm 119

‘n Studie van Psalm 119 (Tertius Fourie, 2021)

1

’n Studie van Psalm 119 deur Tertius Fourie

© Kopiereg voorbehou (T. Fourie, 2021)

Inleiding Psalm 119 is die langste Psalm in die Bybel en strek oor 22 strofes waarin 176 verse voorkom. Dit is ’n Psalm wat baie maklik vermy word omdat dit so lank is. Ons lewe in ’n tyd waar mense ’n kitsoplossing vir alles soek en ongelukkig benader baie mense die Bybel ook so. Elkeen van die 22 strofes in Psalm 119 is met ’n letter van die Hebreeuse alfabet gemerk. By elke strofe stem die eerste letter waarmee die strofe begin ooreen met die letter waarvolgens die strofe gemerk is. Die primêre fokus van hierdie artikel is om hierdie Psalm strofe vir strofe te ontleed en dan op die algehele tema of boodskap te let.

Page 2: 'n Studie van Psalm 119

‘n Studie van Psalm 119 (Tertius Fourie, 2021)

2

Alef Die sentrale gedagte van hierdie strofe is dat hy wat die Here in opregtheid dien en Hom gehoorsaam nie sal sterf nie, maar ewig lewe. Dit sluit direk aan by Johannes 3:16 wat deur baie gelowiges aangehaal word as ’n vers wat die essensie van die geloof saamvat. Die belangrike woorde in die eerste drie verse van Psalm 119, word deur die Amplified Bible aangedui as: Persoonlike integriteit – integriteit word in Hebreeus aan beide voorspoed en onskuld gekoppel. Indien ‘n mens nog dieper op integriteit ingaan aan hand van die verbintenis met voorspoed en onskuld, vind ’n mens dat dit ook op heelheid dui. As jy dus in die wet van die Here wandel, sal jy heelheid in gees ervaar. Jy sal gevul wees met die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan. Opregtes – die opregtes van hart soek die Here ons God met hulle hele hart. Hulle hart is in geheel in opregtheid en suiwerheid aan Hom toegewy. Skuldloos – dit klink vreemd, want ons is almal sondaars. Maar deur die kosbare bloed van Christus Jesus ons Here aan die kruis word ons van alle sonde gereinig. Dit beteken nie dat ons maak soos ons wil nie, maar dat ons juis vanweë die wete dat ons in opregtheid moet wandel en die vrugte van die Gees dra, daarop fokus dat ons gedagtes, dade en woorde tot eer en verheerliking van Christus Jesus ons Here sal wees. Die beginsel van opregtheid van hart word verder in die tweede vers van Psalm 119 nog dieper beklemtoon. Die betrokke vers dui immers aan dat die wat Hom van ganser harte soek, sy getuienisse bewaar. En dan sluit vers drie daarby aan wanneer dit beklemtoon dat diegene wat die Here van ganser harte soek, juis dié is wat geen ongeregtigheid doen nie, maar daarop fokus om in die weë van die Here ons God te wandel. Ons sien hoe die vierde vers die kerngedagte van God se wet saamvat: die Here se bepalinge is daar om onderhou te word. Daar is ’n spesifieke rede vir sy bepalinge en dit is nie maar net lukraak gegee sodat mense iets het om te lees of na te jaag nie. Nee, die bepalinge en verordeninge van die Here ons God kom uit sy volmaakte gramskap na vore en Hy weet presies wat sy doel daarmee is. Vers vyf beklemtoon ’n belangrike aspek in terme van die feilbaarheid van die mens. Ons is feilbare wesens en ons faal maar maklik. Hiervolgens hef die Psalmdigter ’n uitroep wat met ’n gevoel van spyt vereenselwig word: hy voel hartseer oor die feit dat hy ’n sondige mens is wat maklik struikel. Daarmee saam is daar ’n sterk beklemtoning vanaf verse 6 tot 8 betreffende opregtheid en regverdigheid en juis omdat hierdie eerbare eienskappe in

Page 3: 'n Studie van Psalm 119

‘n Studie van Psalm 119 (Tertius Fourie, 2021)

3

spanning is met die mense se gedurige neiging tot sonde, word daar in vers 8 gepleit dat die Here tog nie die mens moet verlaat wanneer hy in sonde verval nie. ’n Mens kan verbande trek tussen die opregtes van hart en die wat gebore is uit die saad van God. Let in hierdie verband op 1 Johannes 3:9: Elkeen wat uit God gebore is, doen geen sonde nie, omdat sy saad in hom bly; en hy kan nie sondig nie, want hy is uit God gebore. (AFR33/53). In 1 Johannes 5:18: Ons weet dat elkeen wat uit God gebore is, nie sondig nie; maar hy wat uit God gebore is, bewaar homself, en die Bose het geen vat op hom nie. (AFR33/53). Beide hierdie verse word baie duidelik deur 1 Petrus 1:23 verklaar: ...want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly. (AFR33/53). Die noodsaaklikheid van wedergeboorte is dus iets wat indirek in Psalm 119:1-8 beklemtoon word. ’n Mens kan jou immers nie in die wet van God verbly as jy nie opnuut gebore is vanuit die saad van God tot ’n nuwe mens wat Christus Jesus ons Here in alle opregtheid navolg. Bet Die spyt wat die opregte mens het in terme van sy sondige natuur word weereens beklemtoon in vers 9 waar die vraag gevra word: “Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou?” Die antwoord volg dan: “Deur dit te hou na u woord.” (AFR33/53). Die Woord van die Here is dus die rigtingwyser. Dit is ’n kompas waarsonder ’n mens heeltemal verlore sou wees. Die bewaring van God se woord in die hart van die mens, vorm ’n direkte verband met Lukas 2:19 en Lukas 2:51. In laasgenoemde twee verse word duidelik melding gemaak van Maria wat die woorde in haar hart bewaar het. Wanneer ons hart met die woorde van die Here gevul is, het ons die hart van vlees en nie die hart van klip nie (Eseg. 11:19-20, vgl. Eseg. 36:26). Die gevolg van so ’n opregte hart waarin die woorde van die Here gebêre is, is dat die persoon spontaan in lofsang tot eer en verheerliking van die Here uitbreek. Dit sien ons duidelik in vers 12 van Psalm 119. Ook sien ons in vers 12 ’n honger na die leringe van die

Page 4: 'n Studie van Psalm 119

‘n Studie van Psalm 119 (Tertius Fourie, 2021)

4

Here – die persoon is gretig om nog te leer. Hiervolgens word daar na sewe ander verse in dieselfde Psalm verwys waarin ook duidelik gestel word dat die opregtes van hart gretig is om die Here se insettinge te leer (vgl. Ps. 119:26,64,68,108,124,135,171). Gimel Dit is opvallend dat die derde strofe baie met vervreemding van die sondige wêreld en verdieping in die waarheid van Yahweh te doen het. In baie opsigte vertolk die syfer 3 ’n toonaangewende rol in baie gedeeltes van die Heilige Woord van God, aangesien hierdie syfer ’n aanduiding van nuutgeborenheid of hergeboorte is. Dit sinspeel in hierdie verband altyd op die opstanding van Christus Jesus op die derde dag (Matt. 28:1-10; Mark. 16:1-8; Luk. 24:1-12; Joh. 20:1-18). Let ook in hierdie verband op die derde dag van die skepping. Op die derde dag het ons Hemelse Vader die droeë grond en plante geskape – daar was dus nuwe lewe wat uit die grond ontstaan wat nat was weens die water (Gen. 1:9-13). Dit simboliseer die wyse waarop die Heilige Gees as lewende water nuwe lewe uit die grond na vore bring. Die mens is immers uit die grond geskape, maar wanneer ons deur die saad van God wedergebore word, word ons deur die lewende water van die Heilige Gees gevoed en sodoende word ons bome wat langs waterstrome geplant is (Ps. 1:1-3). Na die derde dag kom die vierde dag. Onthou dat Lasarus op die vierde dag deur Jesus Christus opgewek is (Luk. 11:1-44). Daarom is daar in terme van simboliek altyd die vier wat ná drie kom as ’n teken van nuwe belofte. Wat het God die Vader op die vierde dag geskape? Hy het die hemelligte geskape – sterre, planete ensomeer en ook aan hemelliggame die taak gegee om as tekens van onderskeidelik dag en nag te funksioneer (Gen. 1:14-19). Gevolglik kan dag en nag ook as simbolies van lewe en dood beskou word – op die vierde dag is daar juis duidelike onderskeid tussen lewe en dood. Sodoende ook is daar in die derde strofe van Psalm 119 die vooruitskouing van nuwe belofte vir diegene wat die Here met opregte harte dien. Let byvoorbeeld op vers 17 van Psalm 119. Die sentrale boodskap van hierdie vers is dat lewe slegs gevind word by die Here en sy goedheid. Jy kan fisies lewe, maar geestelik dood wees. Maar wanneer jy die Here met ’n opregte hart dien, is jy geestelik lewendig. Selfs al sterf jy, lewe jy steeds, want die dood is vir die volgelinge van Christus Jesus slegs ’n oorgangsfase en nie ’n finaliteit nie. In vers 17 sê die Psalmdigter dat hy wil lewe en die Here se woord bewaar – soos ons in die vorige verse gesien het, word die Here se woord juis in die hart van die opregtes bewaar. Dit herinner ons aan Johannes 1:1-5, 14. Jesus Christus is die Woord wat vlees geword en onder ons kom woon het. Die Woord is die lig en die duisternis kon dit nie uitdoof nie. Net so skyn die opregtes van hart wat die Here se Woord bewaar, hul lig om die duisternis van die wêreld te verdryf.

Page 5: 'n Studie van Psalm 119

‘n Studie van Psalm 119 (Tertius Fourie, 2021)

5

Hiervolgens sien ’n mens dan ook die smeekbede in vers 18 dat die Psalmdigter se oë geopen moet wees – dit handel oor die geestelike waaksaamheid en gevolglik ook die heiliging in die Waarheid van God, want sy Woord is die Waarheid (Joh. 17:17). Onthou dat Jesus Christus per geleentheid aan die skrifgeleerdes gesê het: As julle blind was, sou julle geen sonde hê nie; maar nou sê julle: Ons sien! Daarom bly julle sonde. (Joh. 9:41 AFR33/53). Wanneer die Heilige Gees jou oë geopen het sodat jy in die Waarheid van God wandel, weet jy presies wat die Waarheid is. Aangesien jy weet wat die Waarheid is, het jy geen verskoning om die leuen te volg of vir die slinkse planne van die duisternis te val nie. En juis omdat jou oë oop is en jy in die Waarheid van God wandel, sal die wêreld jou haat. Let op Psalm 119:19,23. Jesus Christus het dit immers telkemale duidelik gemaak dat die wêreld ons sal haat (Matt. 10:17,21; Matt. 24:9; Joh. 15:20; Joh. 16:2). In vers 23 van Psalm 119 sien ons dat selfs vorste teen die kinders van God beraadslaag. Vorste moet in baie opsigte in die Bybel as tweeledig verstaan word. Daar is fisiese vorste as menslike konings oor lande, maar daar is ook die geestelike vorste. Let byvoorbeeld op Daniël 10. Hierdie geestelike vorste is in baie opsigte gevalle hemelwesens wat die kinders van God haat en ook probeer verhoed dat die evangelie van Christus Jesus ons Here regoor die wêreld verkondig moet word. Wanneer ’n regering Christen-gelowiges wreed vervolg deur hulle in tronke te gooi, martel en uiteindelik ter dood veroordeel, kan jy maar met sekerheid weet dat daar geestelike magte van die duisternis agter die spreekwoordelike skerms optree. Die Blye Boodskap van Christus Jesus ons Here is vir hierdie magte van duisternis soos lemmetjies en fyn glas wat in hulle oorkanale maal – hulle haat die Waarheid van die lewende God van hemel en aarde en sal enige iets doen om te verhoed dat mense wat in hul geografiese magsgebied woon, die evangelie hoor. In Psalm 119:22 kry ons met die term getuienisse te doen. Hierdie term het intertekstuele verwysings na verse 33,34,56,69,100,115 en 145. In Psalm 119:24 kry ons met die term verlustiging te doen. Let in hierdie geval op verse 77,92,143 en 174 wat as intertekstuele verwysings dien. Ons het vantevore in vers 12 ook gesien dat daar ’n sleutelwoord is, naamlik insettinge. Ons het dus nou met verlustiging te doen en met getuienisse asook insettinge. Dus, die opregtes van hart wat hul verlustiging daarin om die Here se insettinge te leer en te onderhou en daarvolgens getuienis te lewer. Dalet Om lewend gemaak te word na die Here se Woord is die kerngedagte van hierdie strofe. Ons sien ook lewendmaking as ’n sleutelwoord binne die konteks van die hele Psalm. Psalm 119:25 het intertekstuele verwysings met verse 37,40,88,93,107,149,154,156 en 159. Ons

Page 6: 'n Studie van Psalm 119

‘n Studie van Psalm 119 (Tertius Fourie, 2021)

6

sien verder na aanleiding van verse 26 en 27, asook 29,30 en 32 dat daar melding gemaak word van die sondige weg teenoor die weg van die Here. Dit handel oor skuldbelydenis. Wanneer jy op die weg van die Here gaan, bely jy dat jy voorheen op ’n dwaalspoor gegaan het en sodoende word jy nuutgebore, gereinig in die Woord van die Here as die Waarheid (Joh. 17:17) en ken jy Christus Jesus ons Here as die weg, waarheid en lewe (Joh. 14:6). Die kern van hierdie strofe is dus dat ’n mens nie die Here in opregtheid kan volg indien jy op die weg van die sonde en duisternis wandel nie. Jy moet breek met die vrugtelose praktyke van duisternis en as nuwe mens op die weg van die Here wandel. In vers 25 is dit opvallend dat die Psalmdigter melding maak van sy siel wat aan stof kleef. Dit veronderstel ’n intieme nabyheid tussen die siel en die fisiese. Hy wil juis wegkom van die stof waaruit hy gemaak is en sy fokus toespits op die weg, onderwysing en wet van die Here ons God. Wanneer hy loskom van die stof, breek hy met sy ou lewe as iemand wat in sonde volhard het en word hy nuutgebore in Christus Jesus ons Here deur die kragtige werking van die Heilige Gees. He Hierdie strofe vorm ’n baie direkte verband met die vierde strofe en brei uit op die beginsel van om op die weg van die Here te wandel. Die kerngedagte van hierdie strofe is dat die Psalmdigter vra dat sy verstand só deur die kragtige werking van die Heilige Gees gerig word, dat hy die Here se bepalinge konstant voor oë sal hou en nie sy oë sal wegdraai om op die leuens van die duisternis te fokus nie. Die lewendmaking deur geregtigheid in Psalm 119:40 is baie opvallend, want dit verwys subtiel heen na Christus Jesus ons Here as die Regverdige Regter wat oor lewendes en dooies oordeel (Matt. 25:31-46, vgl. Ps. 2; Ps. 110; Open. 21:1-8). Sy geregtigheid is die volmaakte geregtigheid van God die Vader en dit gee lewe wanneer mense voel dat hulle gaan sterf weens die ongeregtigheid van die sondige wêreld teen hulle. Die verbreking van bande met die sondige wêreld word immers baie direk beklemtoon in verse 36, 37 en 39. Dit is dinge van die vlees wat met verganklikheid en dood te doen het. Daarteenoor staan die geregtigheid van Yahweh wat in die volmaakte gestalte daarvan onder andere ewig, regverdig en lewendmakend is. Wau Die kern van hierdie strofe word in verse 41 tot 42 saamgevat: En laat u goedertierenhede oor my kom, o Here, u heil volgens u belofte, sodat ek my smader iets kan antwoord, want ek vertrou op u woord. (AFR33/53).

Page 7: 'n Studie van Psalm 119

‘n Studie van Psalm 119 (Tertius Fourie, 2021)

7

Dit herinner aan die Woord van die Here as die swaard van die geestelike wapenrusting (Efes. 6:17). Die opregtes van hart vertrou op die Here se Woord soos wat ’n opgeleide soldaat van daardie tyd op sy swaard vertrou het. Daar is in die moderne tyd ’n spreukwoord: ’n Soldaat gaan nooit oorlog toe sonder sy geweer nie. Dit beteken dat ’n mens altyd voorbereid moet wees en die belangrikste dinge moet onthou. Net so moet ons altyd gereed wees om die Woord as geestelike swaard uit die skede te trek om onsself teen die aanslae van die goddelose te verdedig. Sajin In hierdie strofe kry ons nog ’n sleutelwoord: belofte. In vers 50 staan geskrywe dat die Here se belofte die gelowiges lewend maak. Ons weet die Here ons God is dieselfde gister, vandag en more. Hy is standvastig en ewigdurend. Sy beloftes staan vas. Hy is nie wispelturig nie en kom altyd sy beloftes na. Daarom kan ons weet dat ons deur die beloftes van die Here ons God lewend gemaak word. Kyk byvoorbeeld hoe lewendmaking ten opsigte van Jesus Christus se bediening op aarde in die Ou Testament by monde van profete soos Jesaja, Jeremia, Esegiël, Daniël, Sagaria en andere belowe is. En God die Vader het daardie belofte nagekom, net soos Hy ook al sy ander beloftes nakom. Die belofte van die Here wat die gelowige lewend maak, vorm intertekstuele verbande met verse 11,38,41,58, 67,76,82,103,116,123,133,140,148,154,162,170,172. Ook in vers 54 sien ons hoe die Here sy kinders bewaar selfs al is hulle in ’n plek vol vreemdelinge onder wie daar geen liefde vir en diens tot die Here is nie. Dit herinner aan Daniël en sy drie vriende wat in Babilon tussen al die heidene was. In daardie moeilike omstandighede het die Here altyd by hulle gestaan, hulle versterk en telkemale van gewisse dood gered. Get Hierdie strofe begin met die vaste wete wat elke opregte gelowige in die Here het: Die Here is my deel... (Ps. 119:57 AFR33/53). Die American Standard Version dui dit aan as Jehovah is my portion.... Dit vorm ’n direkte verband met Psalm 16:5-6 waarin geskrywe staan: Die Here is die deel van my erfenis en van my beker; Ú onderhou my lot. Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi. (AFR33/53). Die beker waarvan hier melding gemaak word, verwys na Psalm 23:5 waarin geskrywe staan dat die gelowige se beker oorloop. Van hier af verwys dit vooruit na Openbaring 14:10 waarin geskrywe staan dat die goddeloses die beker gevul met die toorn van God die Vader sal moet drink. Hierteenoor ontvang die gelowiges die beker tydens Nagmaal gevul met die

Page 8: 'n Studie van Psalm 119

‘n Studie van Psalm 119 (Tertius Fourie, 2021)

8

wyn wat simbolies van die kosbare bloed van Christus Jesus ons Here is. Ons is deur sy bloed losgekoop van die verdoemenis en sy bloed is gestort vir die vergifnis van sondes. Verder sien ons ook in verse 61 en 62 dat ongeag hoe donker dit rondom die opregte gelowiges is, hulle staan altyd vas in diens tot die Here. Selfs om middernag wanneer dit donker is en die magte van duisternis mense geestelik aanval, staan die gelowiges op om die Here te loof. In vers 63 sien ons die hegte band wat daar tussen gelowiges moet wees – dit word veral saamgevat in die term “metgesel” (AFR33/53). Om ’n metgesel te wees is soveel meer as net ’n mede-gelowige. Dit is om ’n mede-erfgenaam te wees van dit wat vir ons afgemeet is in ons diens aan Christus Jesus ons Here. Dit is om saam deur beproewinge, aanslae van die bose ensomeer te gaan en mekaar op te bou met die Woord van die Here ons God. Tet Hierdie strofe brei uit op die moeilike omstandighede waarvan daar in die voorafgaande strofe melding gemaak is. Dit is veral vers 67 wat duidelik uitstaan: Voordat ek verdruk was, het ek gedwaal; maar nou onderhou ek u woord. (AFR33/53). Hierdie vers vat een van die kern-eienskappe van Christenskap saam. Die lewe van ’n volgeling van Christus Jesus kan in hierdie wêreld verskriklik moeilik wees. Hier waar ek sit en skryf het dit ’n paar dae vantevore uitgekom dat volgelinge van Jesus Christus in Sjina deur die owerhede gearresteer word. Hulle word aangehou en gedwing om hulle geloof in Christus Jesus af te sweer. Indien hulle weier, word hulle vir dae lank wreed gemartel totdat hulle sterf. Jesus Christus se woorde in terme van wat dit beteken om Hom te volg, word baie duidelik in Matteus 16:24-28 uiteengesit. In Matteus 16:24 staan geskrywe: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg. (AFR33/53). Die Psalmdigter skryf in Psalm 119:67 dat wanneer hy verdruk word, onderhou hy juis die Woord van die Here ons God. Dus, hy verbly hom in die verdrukking en lyding wat hy as kind van Yahweh deurmaak, want dan fokus hy spesifiek op die Here en sy heilige Woord. Een van die voortdurende vrae waarmee ons onsself moet konfronteer wanneer ons kritiese selfondersoek doen, is: Is ek werklik bereid om my kruis op te tel en Jesus te volg?

Page 9: 'n Studie van Psalm 119

‘n Studie van Psalm 119 (Tertius Fourie, 2021)

9

In vers 72 sien ons dat die Psalmdigter die Here ons God loof en prys met die stelling dat die wet van God se mond vir die mens beter is as duisende stukke goud en silwer. Die wet wat uit God se mond kom kan tweeledig verstaan word. Aan die eenkant verwys dit na die insettinge en bepalings van die Here ons God – sy wet wat ewig vasstaan en wat in die gestalte van Jesus Christus as die lydende Dienskneg vervul is. Aan die anderkant verwys dit na die woorde wat fisies uit God se mond gekom het toe Hy hemel en aarde geskape het. Deur daardie woorde is natuurwette in plek gestel en daarvolgens het die essensie van lewe deur alles gevloei. God die Vader se woorde gee lewe soos wat niks anders lewe kan gee nie. God die Vader se woorde is ewig en staan vas. God die Vader se woorde omvat die wyse waarop elke aspek van die skepping funksioneer. Met ons beperkte menslike begrip, verstand en rede kan ons nie eers die omvang daarvan werklik besef nie. Jod Ons sien in vers 73 dat die Psalmdigter vra dat die Here hom verstandig moet maak. Hoe maak die Here ’n mens verstandig? Dit handel daaroor dat die Here op verskeie wyses met ons praat – deur ander mense, deur preke, deur omstandighede en deur sy Woord as die ewige en getroue Woord van die Here ons God. Let op Spreuke 9:10-12: Die beginsel van die wysheid is die vrees van die Here, en kennis van die Heilige is verstand. Want deur my word jou dae meer en word jare van lewe vir jou toegevoeg. As jy wys is, is jy wys tot jou voordeel, en is jy ’n spotter, dan moet jy dit alleen dra. (AFR33/53, vgl. Spr. 1:7; Spr. 30:1-9). ’n Mens moet so opreg tot eer en verheerliking van die Here ons God lewe dat ander mense die kragtige werking van die Heilige Gees in jou lewe kan sien. ’n Mens moet bid dat die Here jou sal help dat alles wat jy doen, dink en sê tot eer en verheerliking van Christus Jesus ons Here sal wees. Dit is presies wat die Psalmdigter in vers 74 van Psalm 119 sê. Hy maak dit duidelik dat mense na hom kyk en bly word, want hulle sien hoe hy op die woord van die Here wag. Hy wag op God die Vader om aan hom die wysheid deur Christus Jesus ons Here as die Wysheid van God deur die kragtige werking van die Heilige Gees te gee, want aardse wysheid is oppervlakkig en niksseggend (Kol. 2:8, vgl. Gal. 1:14). Dit kom tot niks. Verder sien ons ook hoe geduldigheid as een van die vrugte van die Gees (Gal. 5:22) implisiet beklemtoon word. Want in verse 75 tot 77 kom dit duidelik na vore wanneer ons sien dat dit hier handel oor iemand wat lankmoedig is in tye van swaarkry. Hy fokus nie op die swaarkry rondom hom nie, maar kyk vorentoe en hou sy oë op die Here ons God gevestig. In hierdie verband moet ’n mens let op die woorde van die apostel Paulus: Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle! Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word. Die Here is naby. Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles

Page 10: 'n Studie van Psalm 119

‘n Studie van Psalm 119 (Tertius Fourie, 2021)

10

deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus. (Filip. 4:4-7 AFR33/53). Jacob Prasch van Moriel Ministries het eenmaal gesê dat ’n mens deur die grootste krisis in jou lewe kan gaan en ten spyte daarvan steeds vrede hê. Want wanneer ’n mens tot eer en verheerliking van Yahweh lewe, het jy die vrede wat alle verstand te bowe gaan: die Shalom van die Skepper van hemel en aarde deur Christus Jesus ons Here volgens die kragtige werking van die Heilige Gees. ’n Baie goeie voorbeeld van iemand wat verskriklike swaarkry beleef het, maar ten spyte daarvan vrede en vreugde in die Here beleef het, was die profeet Jeremia. Let op Jeremia 15:16: Toe u woorde gevind is, het ek hulle opgeëet, en u woord was vir my vreugde en vrolikheid vir my hart; want u Naam is oor my uitgeroep, Here, God van die leërskare! (AFR33/53, vgl. Eseg. 3:1-3; Open. 10:9-10). Die woordjie “maar” in vers 78 van Psalm 119 is baie belangrik in die opsig dat dit aandui hoe die Psalmdigter die onregverdigheid van ander mense teenoor hom hanteer. Hy word onregverdig behandel deur mense, maar ten spyte daarvan oordink hy die bevele van die Here. Hy laat dus reg, geregtigheid en wraak aan die Here oor. Hy fokus eerder daarop om in die vergadering van die regverdiges te wees, want hy wil saam met die opregtes van hart wees (Psalm 119:79-80, vgl. Ps. 1:5). Kaf Vanaf verse 81 tot 88 sien ons die tema van verdrukking en lyding weens die onregverdige optrede van goddeloses. In vers 86 sien ons dat die Psalmdigter uitroep dat die Here se gebooie die waarheid is en dat die goddeloses hom sonder oorsaak vervolg. Dit is ’n harde en hartseer realiteit van om ’n volgeling van Christus Jesus ons Here te wees. Jy sal baie swaarkry en verdrukking ervaar in verskeie vorms. Vervolging van Christen-gelowiges vind nie net op fisiese vlak plaas soos in Sjina, Noord-Korea en verskeie Afrika en Arabiese lande waar mense gemartel, in tronke gegooi en uiteindelik doodgemaak word nie. Dit vind ook op sielkundige vlak plaas – mense by jou werk wat skielik nie meer met jou wil praat nie omdat jy die Here liefhet, familie en vriende wat jou vermy of verwerp omdat jy nie meer langs die braaivleisvuur jouself aan drank en vuil grappe vergryp nie... In 2 Timoteus 3:1-5 lees ons die volgende: Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers,

Page 11: 'n Studie van Psalm 119

‘n Studie van Psalm 119 (Tertius Fourie, 2021)

11

bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat ’n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af. Hiervolgens moet ook op 2 Timoteus 4:1-5 gelet word: Ek besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk: verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; want daar sal ’n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ’n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels. Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van ’n evangelis; vervul jou bediening. (AFR33/53, vgl. 2 Kor. 11:16-33; 2 Kor. 12:1-10). Lamed Hierdie strofe beklemtoon die afhanklikheid van die Here en sy almagtigheid net nog soveel meer. Let daarop dat vers 89 duidelik sê dat die Here se woord vasstaan in die hemele. Dit herinner aan die woorde in die Onse Vader wat sê laat U wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde... (Matt. 6:10 AFR33/53). Want ons lewe hier op aarde moet geskied volgens die gees en nie die vlees nie. Indien ons volgens die vlees lewe, word ons gelyk aan hierdie sondige wêreld. In hierdie geval moet ’n mens let op 1 Korintiërs 1:17-31, asook 1 Korintiërs 2:1-16. In 1 Korintiërs 2:16 staan duidelik dat ons die sin van Christus het. Ons is dus nie afhanklik van ons menslike begrip, rede en verstand nie. Nee, ons het die wysheid wat van God af kom. Hierdie wysheid word as dwaasheid geag deur die goddeloses en die sondige wêreld. Want die goddeloses fokus net op dit wat hulle kan sien, maar ons fokus op die dinge van die Heilige Gees. Ons sien duidelik dat alles aan die Here behoort en om dus nie ingestel te wees op die Gees nie, is om te ontken dat alles in hierdie kosmos aan die Here ons God behoort. In vers 92 word dit baie duidelik gestel – indien die gelowige hom nie in die wet verlustig nie, sal hy omkom in ellende. Dit handel daaroor om te weet dat die Here se bepalinge en verordeinge goed en reg is. ’n Mens moet Hom liefhê bo alles en Hom met jou hele hart vertrou. Indien ’n mens die Here ons God wantrou, beweer ’n mens eintlik dat Hy nie die beste belange van sy skepping en skepsels op die hart dra nie. God is tog lig en in Hom is geen duisternis nie (1 Joh. 1:5-10). Daarom weet ons dat ons Hom kan vertrou. Hy is van ewigheid tot ewigheid die almagtige Skepper van hemel en aarde.

Page 12: 'n Studie van Psalm 119

‘n Studie van Psalm 119 (Tertius Fourie, 2021)

12

In vers 93 word ’n verdere uitbreiding gegee op die noodsaaklikheid van om vreugde in die Here te vind: dit gee lewe. Christus Jesus ons Here is die Woord wat vlees geword en onder ons kom woon het en Hy het die wet vervul. Christus Jesus is ons Wet, ons Sabbat, ons Verlosser, Saligmaker en Hy gee lewe en dit in oorvloed (Joh. 10:10). Verder is Hy ook die weg, waarheid en lewe (Joh. 14:6) en indien ’n mens nie jou vreugde in die wet van die Here vind nie, raak jy die pad byster. Dan beweer jy dat daar ’n ander pad na God die Vader behalwe Christus Jesus is. Christus Jesus ons Here is die enigste weg na God die Vader. Die Here ons God is volmaak en sy wet staan vas. In vers 96 word dit pertinent gestel dat enige iets wat buite God funksioneer wat as volmaak sou voorkom, beslis tot niet gaan. Volmaaktheid en vervulling word slegs by die Here ons God gevind. Yahweh is van ewigheid tot ewigheid die enigste ware lewende God van hemel en aarde en buiten Hom is daar geen ander nie. Die gebod van die Here is wyd – ons weet dat ons deur Jesus Christus die nuwe gebod het en dit is dat ons mekaar moet liefhê en die Here ons God moet liefhê met ons hele hart, verstand en al ons kragte (Matt. 22:37-40). Mem Liefde vir die Here se wet lei daartoe dat die gelowige wysheid het wat van Yahweh af kom. Daar is geen wysheid so suiwer en goed soos die wysheid wat van God af kom nie. Want dit is die wysheid wat deur Christus Jesus ons Here kom. Let in hierdie verband op Spreuke 8:22-36. Om die wysheid van God te bekom handel ook daaroor dat ’n mens jou nie met goddeloosheid vereenselwig nie. Dit wat die wêreld as wysheid beskou, is dwaasheid. Daarom roem die Psalmdigter daarop dat sy voete weggehou is van elke verkeerde pad (Ps. 119:101-102). Hy beklemtoon dat die Here hom geleer het – die Here ons God is die ware Leermeester en daarom sien ons dat Jesus Christus tydens sy bediening op aarde ook die mense onderrig het. Die beloftes van die Here is vir die gelowige soet (Ps. 119:103), want die Here kom altyd sy beloftes na. Hierdie vers vorm ’n direkte verband met Psalm 19:10-11: Die vrees van die Here is rein: dit bestaan tot in ewigheid; die verordeninge van die Here is waarheid – tesame is hulle regverdig. Hulle is begeerliker as goud; en soeter as heuning en heuningstroop. (AFR33/53). Die gelowige verafsku die paaie wat vol leuens is (Ps. 119:104), want die pad na God die Vader is Christus Jesus ons Here – die weg, waarheid en lewe.

Page 13: 'n Studie van Psalm 119

‘n Studie van Psalm 119 (Tertius Fourie, 2021)

13

Noen Daar is net een ware Lig en dit is die Woord van God in die gestalte van ons Here Jesus Christus. Ons weet dat Hy van die begin af daar was en dat Hy self God is en dat Hy die lig is wat nie deur die duisternis uitgedoof kon word nie (Joh. 1:1-5). Jesus Christus is die lig vir die wêreld – die wat Hom volg sal die lig hê wat lewe gee en nooit in die duisternis wees nie (Joh. 8:12). Hy was van die begin af daar (Joh. 8:58) en toe God die Vader gesê het “Laat daar lig wees!” (Gen. 1:3) het Hy nie net fisies lig geskape nie, maar op geestelike vlak sy eniggebore Seun Christus Jesus ons Here as die lig vir die wêreld beklemtoon. Gevolglik het Jesus Christus ons Here as Melgisedek aan Abraham verskyn (Gen. 14:18-20, vgl. Ps. 110:4; Hebr. 5:10; Hebr. 7:11,17). Hy is ook deur die profete voorspel en verder sien ons ook subtiele en soms meer indirekte verwysings na Hom in sommige van die Psalms. Psalm 119:105 is naas Psalm 23 en Psalm 91 sekerlik een van die mees bekende gedeeltes in die Bybel. U woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad. (AFR33/53). Christus Jesus ons Here as die Woord van God wat vlees geword en onder ons kom woon het, gekruisig is, gesterf het, opgestaan het uit die dood en opgevaar het na die hemel waar Hy aan die Regterhand van God die Vader sit, is die lig vir die wêreld en elkeen wat Hom in opregtheid navolg, sal gered word. Hy is die woord wat ’n lamp is waarmee ons duidelik kan sien sodat ons nie ons voet teen ’n klip stamp nie (Ps. 91:12). Hy verlig ook die pad, want Hy self is die weg, waarheid en lewe. Hy is die enigste weg na God die Vader en daar is geen ander nie. Dit is daarom ook opvallend dat Jesus Christus die gelykenis van die vyf wyse en vyf dwase maagde vertel het (Matt. 25:1-13). Hierdie gelykenis vorm pertinent deel van sy profetiese rede op die Olyfberg. Jesus het immers gesê dat ons die lig vir die wêreld is en die sout van die aarde (Matt. 5:13-16). Daarom moet ons die lig van Christus Jesus ons Here so in die donker wêreld skyn dat ons waaksaam sal wees vir die koms van die Bruidegom. Dit is juis waarom die volgeling van Christus Jesus wat sy lamp vol olie hou nie in die vangnet van die goddelose vasval nie (Ps. 119:110). Samek Die Here as ons skuilplek en skild is temas wat baie in die Bybel voorkom, veral vanweë die feit dat Dawid ook vir Saul moes vlug en al moes hy in baie moeilike omstandighede oorleef, het hy geweet dat die Here elke oomblik by hom is. Let byvoorbeeld in hierdie verband op interverwante relasies wat Psalm 119:114 vorm met Psalm 32:7, Psalm 84:10, Psalm 91 asook Psalm 3 en Psalm 4.

Page 14: 'n Studie van Psalm 119

‘n Studie van Psalm 119 (Tertius Fourie, 2021)

14

Die kern van hierdie strofe is egter vers 113, want daar word melding gemaak van twyfelaars. Die term “twyfelaars” word in die American Standard Version aangedui as “them that are of a double mind”. Die aspek van “double-minded” wees handel daaroor om altyd tussen twee plekke te wees wanneer jy ’n besluit moet neem. Dit handel egter oor meer as net besluite: dit handel oor die konsep van om ’n mantelswaaier te wees. Jy kan nooit besluit waar jy staan nie. Jy staan nie vas op beginsels nie. Gevolglik is iemand wat só handel en wandel nie ’n opregte volgeling van die Here nie, want die Here ons God is ewig en standvastig en Hy verwag van sy kinders om standvastig in die waarheid te wees. Die aspek van “double-minded” wees veronderstel ook dat iemand op een oomblik die waarheid sal praat en hom of haar by diegene sal skaar wat die waarheid liefhet. Oomblikke later sal dieselfde persoon hom- of haarself meng met ’n ander groep wat leuens verkondig en die werke van die duisternis liefhet. So ’n persoon is onbetroubaar, vals en ’n regte jakkals. In Afrikaans word daar ook na so iemand as ’n draadsitter verwys. Dit sal miskien meer korrek wees om na ’n ja-broer of ’n hansie-my-kneg te verwys. Dit is iemand wat altyd ja en amen agter alles wat die spesifieke groep sê waarin hy of sy hom of haar in daardie oomblik bevind. Dit is belangrik om te besef dat die aspek van “double-minded” wees ook baie sterk figureer in die okkulte – meer spesifiek in geheime organisasies soos die vrymesselaars en andere. Dit is dus iets wat veel dieper strek as wat ’n mens aanvanklik aanneem of verwag en dit is vir die Here ’n gruwel. Ajin Dit is opvallend hoe daar vanaf vers 105 van Psalm 119 net al hoe meer melding gemaak word van die geregtigheid teenoor die ongeregtigheid. Hier is ’n konstante veronderstelling van die stryd tussen goed en kwaad. Verder handel dit ook telkemale oor die nietigheid van aardse rykdom, soos ons weereens in vers 127 sien. Let daarop dat daar ook vanaf vers 105 baie pertinent melding gemaak word van die verskeie paaie. Die Psalmdigter wil op die pad van die Here bly, want dit wys vooruit na Christus Jesus ons Here as die weg, waarheid en lewe. Ons sien in vers 128 dat daar melding gemaak word van die leuenpad – die pad van duisternis en die wyse waarop die gelowige so ’n pad verafsku. Pe In vers 130 sien ons weer die beklemtoning van lig. Dit is opvallend dat daar melding gemaak word van die “opening van U woorde” (AFR33/53), want dit veronderstel God die Vader se woorde toe Hy hemel en aarde geskape het. Dit veronderstel ook die woorde van Jesus Christus wat waarheid en die weg van verlossing aan mense leer. Verder veronderstel dit ook dat ons as mense ’n wag voor ons mond moet plaas, baie mooi moet let op watter

Page 15: 'n Studie van Psalm 119

‘n Studie van Psalm 119 (Tertius Fourie, 2021)

15

woorde ons spreek – Jakobus 3 is ’n baie belangrike gedeelte in hierdie verband. In charismatiese bewegings word daar verwys na die mens wat lewe moet spreek. Dit is verkeerd en is glad nie waarvan ons hier melding maak nie. Hoe kan ’n mens lewe spreek? Dit is net God die Vader wat lewe kan spreek en dit is presies wat Hy met die skepping van hemel en aarde gedoen het. Wanneer ons let op Jakobus 3 en die feit dat ons ’n wag voor ons mond moet plaas, handel dit daaroor om mekaar in die geloof op te bou. Om woorde te spreek waarmee die lof, eer en heerlikheid van Yahweh dag en nag besing word. Dit is moeilik, want ons is sondige mense. Die ou spreukwoord sê dat wat die hart van vol is loop die mond van oor en ons weet na aanleiding van Jeremia 17:9-10 dat die Here ons God gesê het dat die mensehart vol boosheid is. Daarom is dit so uiters belangrik om dag en nag tot eer en verheerliking van Christus Jesus ons Here te leef. Sodat ons die lig sal skyn in hierdie donker wêreld in plaas van om gelyk te word aan die sondige wêreld en ons in die duisternis te verlekker. Daar is immers geen duisternis in Christus Jesus ons Here nie! Gevolglik vra die Psalmdigter in vers 133 dat die Here sy voetstappe vas moet maak in sy woord en verder vra hy dat ongeregtigheid nie oor hom moet heers nie. Dit is opvallend dat die American Standard Version die term “ongeregtigheid” hier as “dominion” aandui. Strong (1996:77) dui aan dat die term “dominion” verskeie aanduidings in beide Hebreeus en Grieks kan hê. Een daarvan is bâ’al wat op sigself ’n tweeledige betekenis het in terme van koningskap, sowel as om in die huwelik gebind te wees. In formeel-ekwavilente Engelse vertalings dui die apostel Paulus “dominions” aan as een van die rangordes onder beide hemelwesens en gevalle hemelwesens. Let in hierdie verband op Kolossense 1:16 en Efesiërs 1:21 in die English Standard Version, New American Standard Bible, Amplified Bible, American Standard Version en New King James Version. Dit handel hier oor geestelike oorlogvoering, want die magte van duisternis verafsku dit wanneer die gelowige se voete vasstaan in die woord van die Here ons God. Let byvoorbeeld op die geestelike wapenrusting wat Paulus in Efesiërs 6:10-20 bespreek. Let in hierdie geval spesifiek op vers 15 waarin die skoene aan die voete beskryf word as die bereidwilligheid om die evangelie van vrede te verkondig. Indien ’n persoon se voete vasstaan in die woord van die Here ons God, sal hy of sy bereid wees om die evangelie te verkondig. Om die evangelie te verkondig behels per definisie dat geestelike oorlogvoering tot die uiterste vlak geneem word, omdat die verkondiging van die evangelie op ’n spesifieke plek veronderstel dat die owerhede, bose geeste en prinsipaliteite (Efes. 6:12) van daardie betrokke geografiese gebied met die waarheid van Yahweh gekonfronteer word. Hulle word dus deur die Woord as swaard verdryf. In vers 135 van Psalm 119 sien ’n mens weereens hoe die lig van die Here beklemtoon word deur die term “skyn” (AFR33/53). Verder sien ’n mens ook in vers 136 hoe strome van water uit die Psalmdigter se oë loop. Hoekom juis “strome van water” en hoekom nie “trane” nie?

Page 16: 'n Studie van Psalm 119

‘n Studie van Psalm 119 (Tertius Fourie, 2021)

16

Want die strome van water veronderstel die strome van lewende water wat uit die binneste vloei van hom wat die Here met ’n opregte hart dien (Joh. 7:38, vgl. Joh. 4:10) en hierdie water is simbolies van die Heilige Gees (Joh. 7:39). Dus, wanneer die Psalmdigter in Psalm 119:136 sien hoeveel ongeregtigheid daar onder die mense is vloei trane in die vorm van die lewende water, want dit dui aan hoe groot sy begeerte is dat die mense wat dwaal die waarheid van die Here ons God moet leer ken. Deur trane, beproewing en verdrukking heen sal hy die lewende water van die Here aan die mense wil verkondig en die Blye Boodskap wil bekend maak. Net soos die profeet Jeremia wat ook verskriklike beproewing en verwerping deurgemaak het, maar steeds vasgestaan het in die waarheid van Yahweh en sy profetiese roeping uitgeleef het. Sade In hierdie strofe word geregtigheid baie pertinent beklemtoon. God se volmaakte geregtigheid moet altyd in die lig van Psalm 110 beskou word. Jesus Christus is die regverdige Regter wat regverdig oordeel. Daarom vertrou die Psalmdigter ten volle op die Here en sy Woord. Dit is opvallend dat daar in Psalm 119:140 van ’n louteringsproses melding gemaak word. Die Here se woord is gelouter oor en oor en dit kon nie vals bevind word nie. Want die woord van God staan vas in die waarheid van God. Aangesien Jesus Christus die weg, waarheid en lewe is, asook die Woord wat vlees geword en onder ons kom woon het, weet ons dat die waarheid van God ’n volmaakte waarheid is wat van ewigheid tot ewigheid vasstaan. Kof Die vermelding van onderskeidelik die môreskemering (vers 147) en die nagwaak (vers 148) is baie opvallend. Dit beteken dat die Here se Woord dag en nag oordink word (Ps. 1:2). Let ook in verband met die môreskemering op Psalm 5:4: In die môre, Here, sal U my stem hoor; in die môre sal ek dit aan U voorlê en afwag. (AFR33/53). In verband met die nagwaak, moet daar gelet word op Psalm 63:6-7: Soos met vet en vettigheid sal my siel versadig word, en my mond sal roem met jubelende lippe as ek aan U dink op my bed, in die nagwake oor U peins. (AFR33/53). Baie mense vertel hoe hulle laat in die nag wakker skrik en dan voel asof daar ’n geestelike aanslag op hulle is. Persoonlik het ek al hierdie fenomeen beleef en die enigste manier om dit te hanteer is om lofliedere tot eer en verheerliking van Yahweh te sing. Roep die Here aan en Hy sal gehoor gee. Verder moet ’n mens ook in so ’n geval bid. Die magte van

Page 17: 'n Studie van Psalm 119

‘n Studie van Psalm 119 (Tertius Fourie, 2021)

17

duisternis slaan baie kere laat in die nag op ’n mens toe. Hulle taktiek in hierdie verband is om jou te verhoed om te slaap. Hulle weet dat indien jy die volgende dag by die werk uitgeput en moeg is, jy soveel meer vatbaar is vir emosionele onstabiliteit, woede-uitbarstings ensomeer. ’n Persoon wat moeg en uitgeput is, is ’n baie makliker teiken as iemand wat uitgerus en vol energie is. Van der Toorn et al. (1996:851-854) dui byvoorbeeld aan dat die “skrik van die nag” (Psalm 91:5 AFR33/53) in antieke Israel die benaming van ’n demoniese wese was wat mense tydens die middernagtelike ure teister. Daar word byvoorbeeld vertel dat drie-uur soggens die uur van demoniese teistering genoem word, omdat dit ’n ommekeer is van drie-uur die middag (15h00) toe Jesus Christus sy laaste asem aan die kruis uitgeblaas het. Navorsing in hierdie verband toon aan dat 03h00 as die uur van demoniese teistering deur die meerderheid mense as ’n volkslegende beskou word. Maar wanneer daar gelet word op die indiepte navorsing van Van der Toorn et al. in hierdie verband, is dit opvallend dat hierdie ’n baie ou oorlewering is wat uit antieke Israel kom en geensins sy oorsprong in populêre kultuur of fantasie-verhale het nie. Die Psalmdigter beklemtoon juis hierdie blydskap tot eer en verheerliking van die Here – ook in die nag wanneer die vyand hom doodsbenoud probeer maak, spits hy hom toe op die Here en die vreugde wat hy in die Here en sy Woord vind. Resj Vers 154 is baie treffend. Die Psalmdigter vra dat die Here sy regsaak sal verdedig. Dr. Arnold Fruchtenbaum van Moriel Ministries het eenmaal opgemerk: When you are a believer you have a Jewish lawyer sitting at the right hand of God. And He has never lost a case. In vers 160 word die volheid en absolute betroubaarheid van die Here se Woord beklemtoon: Die hele inhoud van u woord is waarheid, en al u regverdige verordeninge is tot in ewigheid. (AFR33/53). Sin, Sjin In vers 164 sien ons dat die Psalmdigter die Here sewe maal elke dag loof. Dit is opvallend dat die getal sewe hier gebruik word, want dit is ’n getal van heiligheid en volmaaktheid wat baie in die Boek Openbaring voorkom. Vroeër in Psalm 119 is melding gemaak van die louteringsproses en die louteringsproses is gewoonlik as voldoende beskou wanneer dit

Page 18: 'n Studie van Psalm 119

‘n Studie van Psalm 119 (Tertius Fourie, 2021)

18

sewe maal gedoen is. Let in hierdie verband op 1 Petrus 1:6-8. Let ook op Daniël 3 – veral vers 19. Die oond moet sewe maal warmer gemaak word voordat Sadrag, Mesak en Abednego daarin gegooi word. Wanneer hulle egter in die vlamme beland, kom hulle ongedeerd daaruit. Daar is ook ’n simboliese aspek aan hierdie verhaal: Jesus Christus verskyn as die vierde Persoon in die vuuroond en beskerm die drie jongmanne teen die hittegloed. Net so is Hy ook by ons deur ons beproewings wanneer dit voel asof ons deur ’n smeltkroes of vuuroond gaan – ons kom ongedeerd aan die anderkant uit, want Christus Jesus ons Here is ons Verlosser en Saligmaker. Tau Hierdie laaste strofe beklemtoon dat die gelowige met vrees en bewing voor die Here ons God lewe. Hierdie vrees is vrees weens liefde en respek. Dit is nie vrees in die opsig dat ’n mens jou oë benoud toeknyp en wonder wanneer die Here jou met ’n weerligstraal gaan slaan nie. Daar word ook twee liggaamsdele van die gelowige beklemtoon: lippe en tong. Die tong is gevaarlik en kan iemand sielkundig aan flarde ruk. Maar die tong kan ook die Here loof en prys. Dit is opvallend dat daar juis in hierdie laaste strofe weer klem gelê word op die tong wat tot eer van die Here sing en die woorde van lofsang wat oor die lippe rol, want dit dui op die diep begeerte van die Psalmdigter om sy tong en lippe tot eer van die Here te gebruik en nie saam met die spotters te spot of saam met die goddeloses leuentaal en dwaasheid te spreuk nie. Wat sê die sleutelwoorde? Die sleutelwoorde waarna ons moet terugkom is: insettinge, getuienisse, verlustiging, lewend en belofte. Hierdie vyf woorde is myns insiens die mees pertinente sleutelwoorde van Psalm 119, aangesien dit die woorde is wat die meeste intertekstuele verwantskap met ander verse regdeur die Psalm vorm. Ons kan hierdie vyf sleutelwoorde gebruik om die sentrale boodskap van hierdie Psalm in ’n sin saam te vat: Yahweh se insettinge en getuienisse is volmaak en daarom verlustig ek my daarin, want dit maak my fisies en geestelik lewend na die standvastigheid van sy belofte. Mag hierdie sin wat hierdie vyf sleutelwoorde bevat vir elkeen van my mede-broers en –susters in Christus Jesus ons Here bemoediging gee. Mag dit vir elkeen net weereens ’n bevestiging wees van die wonderbaarlike almagtigheid van die Here ons God.

Page 19: 'n Studie van Psalm 119

‘n Studie van Psalm 119 (Tertius Fourie, 2021)

19

Verwysings Strong, J. 1996. The New Strong’s Complete Dictionary of Bible Words. Nashville: Thomas Nelson Publishers. Van der Toorn, K., Becking, B., Van der Horst, P.W. 1996. Dictionary of Deities and Demons in the Bible. Grand Rapids: Wm. B. Eerdmans Publishing.