IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUIDAFRIKA (NOORDKAAPSE …
Transcript of IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUIDAFRIKA (NOORDKAAPSE …
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUIDAFRIKA(NOORDKAAPSE AFDELING)
KIMBERLEYSAAK NO.: 1022/00DATUM: 24102003
In die saak tussen:
ABSA BANK BEPERK EISER
teen
TREVOR NEIL MULLER EERSTE
VERWEERDER
H/A SUPERé SUPERETTE
ELSA SOPHIA MULLER TWEEDE
VERWEERDER
JOHANNA MULLER DERDE
VERWEERDER
CORAM: C.C WILLIAMS R:
U I T S P R A A K
WILLIAMS R:
In hierdie saak is daar reeds vonnis by verstek geneem teen Eerste
en Derde Verweerders en word Eiser se eis slegs teen Tweede
Verweerder (na wie ek sal verwys gerieflikheidshalwe slegs as
Verweerderes) op ‘n bestrede basis voortgesit.
Eiser se eis teen Verweerderes is gebaseer op ‘n skriftelike borgakte, onderteken deur Verweerderes en waarin sy haar verbind as borg en medehoofskuldenaar met haar man, Mnr. Trevor Muller teenoor Eiser vir die betaling op aanvraag van enige bedrag geld wat Mnr. Muller die Eiser te enige tyd en op welke skuldoorsaak ookal aan die Eiser verskuldig mag wees.
Die Verweerderes se verweer luidens haar verweerskrif is soos volg.
Alhoewel sy erken dat sy die dokument aanhansel “C” tot Eiser se
Besonderhede van Vordering (“die borgakte”) onderteken het, het sy
nie die dokument voor ondertekening gelees nie en het sy onder die
bona fide maar foutiewe indruk verkeer dat hierdie dokument bloot
geslaan het op die sessie van ‘n polis en dat die dokument nie terme
van borgstelling bevat het nie. Sy voer ook aan dat sy tot hierdie
indruk mislei alternatiewelik beweeg is deurdat die ondertekening van
die dokument voorafgegaan is deur onderhandelinge tussen die Eiser
en haarself ten opsigte van die sessie van ‘n polis en die feit dat sy
ten aansien hiervan dokumentasie sou moes onderteken. Sy is ook
deur haar man meegedeel dat ‘n amptenaar van Eiser sekere
dokumente aan haar sou voorlê vir ondertekening welke dokument
sou slaan op die sessie van’ n polis. Voorts pleit sy ook dat toe die
dokument aan haar voorgele is vir ondetekening deur die amptenaar
van die Eiser, is die skyn verwek en/of te kenne gegee deur die
betrokke amptenaar dat die dokument betrekking gehad het op die
2
sessie van ‘n polis, terwyl die amptenaar opgetree het as werknemer
van Eiser en in die uitvoering van haar pligte as sodanig.
Verweerderes maak ook die bewering dat sy nooit die bedoeling gehad het met ondertekening van die dokument of op enige ander tersaaklike stadium om haar te verbind as borg en/of mede hoofskuldenaar nie. Met die aanvang van die verhoor het die partye ooreengekom dat: Die enigste punt van geskil die geldigheid, al dan nie van die
borgakte (onderteken deur Verweerderes) is;
Die Verweerderes erken dat haar eggenoot (Muller) ‘n bedrag van R148 671,86 plus rente teen ‘n koers van 22% vanaf 29 September 2000 maandeliks bereken en gekapitaliseer, aan Eiser verskuldig is. Dat die Verweerders die bewyslas dra om te bewys dat sy nie aanspreeklik gehou moet word in terme van die borgakte nie.
Verweerderes wat in persoon opgetree het het getuig dat sy en haar man aan die einde van April 1999 na Vanderkloof getrek het vanaf Klerksdorp waar haar man ‘n supermark gekoop het en dit begin bedryf het vanaf Mei 1999. Behalwe vir tekenregte op haar man se tjekrekening, het sy self geen belang in of betrokkenheid by die besigheid gehad nie. Na die Verweerderes haar aanvanklik toegespits het op die opknapping van hul nuwe huis te Vanderkloof het sy gedurende November 1999 haar eie pottebakkery besigheid begin en haar daarmee besig gehou.
Vroeg in die jaar 2000 het Verweerderes se man haar genader en gevra of sy nie ‘n polis, lewensdekking op haar man, en wat aan haar bemaak is wou sedeer aan Eiser nie aangesien die supermarkbesigheid noustrop getrek het en die Eiser ekstra sekuriteit aangevra het vir ‘n verhoogde oortrokke fasiliteit.
Vir hierdie doel het Verweerders ‘n dokument wat ingehandig is as
3
bewysstuk “A” en getiteld is “Sessie van Lewensversekering
/Versekeringspolis” ondertekent op 10 Februarie 2000, by haar man
se supermerk.
Sy getuig verder dat kort na sy die bogenoemde dokument onderteken het het haar eggenoot haar by die pottebakkerywinkel geskakel en meegedeel dat amptenare van die Eiser by haar sal aandoen met nog dokumente wat te doen het met die sessie wat sy ook moes onderteken.
‘n Amptenaar van Eiser by name Sophie Bezuidenhout het later die dag by Verweerderes aangedoen met die gewraakte dokument.
Verweerderes getuig dat alhoewel sy gesien het die dokument se
opskrif is “Borgstelling (met inlywing van sessie van
vorderingsregte/leningsrekeninge)” sy geglo het die dokument het te
doen met die sessie van die polis omdat die word “sessie” in die
opskrif verskyn.
Klousule 4 van die borgakte onder die hofie “Sessie van
vorderingsregte/leningsrekeninge” is deurgehaal en Verweerderes
erken dat sy haar handtekening aangebring het langsaan die
deurgehaalde klousule. So ook in klousule 21 van die borgakte wat
te doen het met beperkings, is die gedeelte van die klousule wat
slaan op beperkte borgstellings deurgehaal en erken Verweerderes
dat sy langs hierdie deurhaling ook haar handtekeninge aangebring
het. Verweerderes erken ook dat dit haar handtekening is wat
verskyn aan die einde van die dokument bokant “Handtekening
4
van/namens borggewer”.
Volgens Verweerderes het sy nie die dokument gelees nie. Haar hande was vuil van pottebakkerswerk en het Bezuidenhout die bladsye van die dokument omgeblaai en aan haar getoon waar sy haar handtekening moes aanbring.
Die borgakte is gedateer 21 Mei 1999, wat glad nie strook met
Verweerderes se weergawe dat die spesifieke dokument onderteken
is ná die eerste sessiedokument bewysstuk “A” wat onderteken is op
10 Februarie 2000 nie. Aanvanklik het Verweerderes met verwysing
na die ongerymdhede in die datums vinger gewys na Eiser met
bewerings van terugdatering van die dokument sowel as die
inkomsteseël op die dokument wat gekanseleer is op 7 Julie 1999.
Sy het ook ontken dat daar enige getuies teenwoordig was toe sy die dokument teken en het beweer dat die twee persone wat die dokument as getuies onderteken het dit in haar afwesigheid gedoen het.
Op die tweede dag van die verhoor en met voorsetting van kruisverhoor deur Mnr. Van Niekerk wat namens Eiser optree gebeur daar ‘n eienaardige ding. Verweerderes erken toe dat sy die borgakte onderteken het op 21 Mei 1999 en dat sy die sessie dokument (Bewysstuk A) by haar pottebakkery winkel onderteken het op 10 Februarie 2000. Sy erken ook dat Bezuidenhout nie die borgakte na die pottebakkerywinkel gebring het vir haar om te onderteken nie. Volgens haar sou sy deurmekaar geraak het met die verskillende datums.
Haar weergawe ten opsigte van die ondertekening van die borgakte verander toe deurdat sy nou beweer dat sy nie deur Eiser se takbestuurder te Petrusville waar die borgakte onderteken was, ‘n
5
Mnr. Laubscher, ingelig is oor die implikasies en die inhoud van die dokument nie. Volgens Verweerderes sou sy nooit onbeperkte borg teken nie aangesien haar enigste bate op daardie stadium ‘n huis was te Klerksdorp en sou sy haar nooit vir meer as die waarde van die eiendom verbind nie.
Hierdie nuwe weergawe van Verweerderes kom veral vreemd voor aangesien sy die vorige dag onder kruisondervraging eers onseker was of daar ‘n huis op haar naam geregistreer was en toe sy met die relevante dokumentasie gekonfronteer was gesê het dat sy nie geweet het die huis was op haar naam geregistreer nie.
Muller, Verweerderes se eggenoot het ook getuig. Hy getuig dat toe hy en Verweerderes Vanderkloof toe trek vanaf Klerksdorp het hy reeds ‘n oortrokke fasiliteit gehad op sy bankrekening met Eiser. Sy moeder het ‘n beperkte borgstelling geteken op hierdie fasiliteit, en omdat die rekening reeds op sy limiet gestaan het moes hy toe die besigheid in Vanderkloof noustrop trek, by Eiser aansoek doen om ‘n verhoogde oortrokke fasiliteit. Sy bankrekening, toe hy en Verweerderes aanvanklik Vanderkloof toe trek was steeds by Eiser se Potchefstroomtak, en het hy met die bankbestuurder te Potchefstroom onderhandel. As sekuriteit vir die verhoogde oortrokke fasiliteite het hy aangebied om die huurinkomste van Verweerderes se woonhuis in Klerksdorp aan Eiser te sedeer tot met die verkoop van die eiendom, waarna hy gehoop het om die oortrokke fasiliteit af te los met die opbrengste van die verkoop van die eiendom. Hierdie reëling volgens Muller was aanvaarbaar vir die bankbestuurder te Potchefstroom en sou hy toe reëlings tref vir die ondertekening van die nodige dokumentasie te Petrusville, die naaste dorp aan Vanderkloof waar Eiser ‘n tak het.
Muller getuig voorts dat hy toe ook aan Verweerderes verduidelik het dat aangesien die eiendom in haar naam geregistreer is sy ‘n sessie dokument moes onderteken waarin sy haar regte tot die huurinkomste en die verkoopsopbrengste van die eiendom aan Eiser moes sedeer. Nie hy of Verweerderes is ooit verwittig dat sy op 21 Mei 1999 ‘n onbeperkte borgstelling sou teken nie.
6
Gedurende kruisondervraging op hierdie selfde punt verander hy sy getuienis en sê dat hy aan Verweerderes verduidelik het dat sy dokumente moes teken vir die sessie van die lewensversekeringspolis op sy lewe en dat hy eers na die vorige dag se hofverdaging Eiser se dokumente wat blootgelê is gesien het en toe eers besef het dat die dokumente wat op 21 Mei 1999 onderteken was wel geslaan het op ‘n borgstelling. Volgens hom kan hy nie eers onthou dat hy saam met Verweerderes die takbestuurder te Petrusville gesien het toe die dokument was onderteken was nie, en kan hy dus ook nie onthou of Mnr. Laubscher aan hulle verduidelik het waaroor die dokument gaan nie.
Mnr. Laubscher het getuig namens die Eiser kortliks dat beide Verweerderes en Muller by hom op kantoor was op 21 Mei 1999 met die ondertekening van die borgakte. Twee bankamptenare Madelein Hanekom en Elsabe Loubscher was ook teenwoordig met die ondertekening. Volgens Loubscher hanteer hy alle borgstellings persoonlik en is die normale prosedure om die borggewer in te lig oor al die implikasies wat met die gee van borg gepaard gaan, hetsy beperkte borgstelling of onbeperkte borgstelling en dat daar geen rede sou wees hoekom hy dit nie op hierdie spesifieke geleentheid sou doen nie.
Dit wat die getuienis aanbetref.
Verweerderes maak staat op justus error om haar aanspreeklikheid
ten opsigte van Eiser te vermy. Die algemene beginsel waar ‘n
persoon wat ‘n kontrak onderteken het wens om aanspreeklikheid
onder die kontrak vry te spring op die grond van justus error ten
opsigte van die aard of inhoud van die dokument is om te wys dat hy
of sy mislei was oor die aard of inhoud van die dokument by wyse
van ‘n handeling of ‘n nalate waar daar ‘n plig was om in te lig deur
die ander kontraksparty. Die wanvoorstelling hoef nie op bedrieglike
wyse of nalatig te wees nie. Die plig om in te lig sou ontstaan waar
7
die dokument afwyk van wat voorgestel, bespreek of op
ooreengekom is of waar die ander kontraksparty besef of moes besef
dat die ondertekenaar onder ‘n wanindruk verkeer of waar die
spesifieke bepaling verskuil is binne die kontrak, of waar dit
ongewoon is of nie normaalweg verwag sou word in die kontrak nie.
Sien in hierdie verband Tesoreiro v Bhyjo Investments Share Block
(Pty) Ltd 2000(1) SA 167 WLD te 175 FG.
In casu is dit duidelik dat daar nie hier te doen is met ‘n kontrak wat ‘n
verskuilde borgstellingsklousule bevat nie. Die dokument is getiteld
“BORGSTELLING” in groot drukskrif. Onder die word Borgstelling
verskyn daar in hakies en in kleiner druk die woorde “MET INLYWING
VAN SESSIE VAN VORDERINGSREGTE/LENINGSREKENINGE”. Die spesiefieke
klousule in die dokument wat te make het met en ook onder die hoof
van “sessie van vorderingsregte/leningsrekeninge” val (Klousule 4) is
deurgehaal en daarlangs het Verweerderes haar volle handtekening
aangebring.
So ook is dit die geval met klousule 21 van die borgakte waarvan die
opskrif “Beperking” is. Hierdie klousule lees as volg:
“Nieteenstaande enige ander bepaling wat in hierdie borgstelling vervat is, is my/ons
aanspreeklikheid teenoor die Bank ingevolge hiervan:
vir al die verpligtinge wat die skuldenaar nou het of in die toekoms teenoor die
Bank mag hê;”
Die woorde wat hierop volg,
8
“Beperk tot die maksimum bedrag van R plus sodanige verdere bedrae vir
rente van koste wat reeds opgeloop het of mag oploop tot die datum van
betaling van die bedrag.”
is deurgehaal en weereens is Verweerderes se volle handtekening
langs die deurgehaalde gedeelte aangebring.
Verder verskyn Verweerderes se handtekening op die laaste bladsy
van die dokument bokant die woorde “Handtekening van/namens
Borggewer.”
Daar kan na my mening geen onduidelikheid bestaan dat hierdie dokument ‘n borgstelling vervat nie. Selfs Verweerderes se aanvanklike verweer dat sy onder die indruk gebring deur Bezuidenhout en Muller is dat sy die dokument teken vir die sessie van ‘n lewensversekeringspolis, sou na my mening nie kon slaag nie. Die enigste klousule wat enigsins te doen het met ‘n sessie is deurgehaal en onderteken en Verweerderes erken boonop dat sy ten minste die hofie van hierdie spesifieke klousule gelees het.
Verweerderes se latere weergawe dat sy onder die indruk was dat sy ‘n beperkte borg geteken het slegs tot die waarde van haar onroerende eiendom en nie die volle omvang en implikasies van haar ondertekening van die borgakte besef het of verduidelik is deur Laubscher nie, verg moontlik verdere bespreking.
As ‘n algemene reël gebruik ons howe ‘n objektiewe toets en stel dan
vas of die party wat beweer dat hy/sy onder ‘n wanindruk verkeer het
deur sy gedrag die ander kontrakterende party rede gegee het om te
glo dat hy/sy op sekere terme kontrakteur en as dit wel so is is die
party gebonde nieteenstaande sy subjektiewe bedoeling. In George
v Fairmead (Pty)Ltd 1985(2) SA 465A stel Fagan HR dit soos volg op
9
471.
“When can an error be said to be Justus for the purpose of entitling a man to repudiate his apparent consent to a contractual term? As I read the decisions, our Courts in applying the test, have taken into account the fact that there is another party involved and have considered his position. They have, in effect, said: Has the first party – the one who is trying to resile – been to blame in the sense that by his conduct he has led the other party, as a reasonable man, to believe that he was binding himself? (vide Logan v Beit 1890(7) SC 197; I.Pieters & Company v Salomin, 1911 AD 121 esp. at pp. 130, 137; Van Ryn Wine and Spirit Company v Chandor Bar, 1928 TPD 417, esp. at pp 422, 423, 424; Hodgson Bros., v South African Railways, 1928 CPD 257 at p. 261). If his mistake is due to a misrepresentation, whether innocent of fraudulent, by the other party, of course, it is the second party who is to blame and the first party is not bound.”
So kan ‘n persoon gebonde gehou word aan ‘n kontrak selfs al het hy
of sy nie die kontrak gelees nie. Daar is natuurlik uitsonderings op
hierdie algemene reël en Verweerderes blyk een van hierdie
uitsonderings op te werp, dit is dat Laubscher sy regsplig versuim het
deurdat hy haar nie die aard en omvang van die borgstelling
verduidelik het nie en haar dus onder ‘n wanindruk laat verkeer het.
(Ek noem dat dit “blyk” ‘n verweer te wees aangesien daar aan die
einde van die dag glad nie met sekerheid bepaal kan word wat
presies die Verweerderes se verweer is nie).
Die vraag is of daar in die omstandighede soos reeds geskets ‘n verpligting op Laubscher gerus het om die aard en omvang van die borgstelling te verduidelik.In Afrox Healthcare Bpk v Strydom 2002(6) SA 21 sê Brand AR op bl.
42 paragraaf 36 die volgende:
10
“Die antwoord hierop is dat die respondent se subjektiewe verwagtings oor wat die kontrak tussen hom en die appellant sou bevat, geen rol te speel het by die vraag of daar ‘n regsplig op Buitendag was om klousule 2.2 aan hom uit te wys nie, wat wel by hierdie vraag van belang is, is of ‘n bepaling soos klousule 2.2 redelikerwys te wagte was, oftewel of dit objektief gesproke onverwags was.”
Daar kan na my mening glad nie gesê word dat die onbeperkte
borgstelling vervat in klousule 21 van die borgakte versteek was of
nie redelikerwys in so ‘n dokument te wagte sou wees nie. Die blote
feit dat die Verweerderes erken dat die dokument ‘n borgakte is en
dat sy geteken het langs die deurhaling van die gedeelte van klousule
21 wat te make het met beperkte borggewing spreek vanself. Daar
was derhalwe na my mening nie eens ‘n verpligting op Loubscher om
hierdie bepaling pertinent onder Verweerderes se aandag te bring
nie.
Loubscher het as getuie ‘n baie goeie indruk op die hof gemaak en daar bestaan geen rede om sy getuienis dat hy wel die omvang van die borgstelling aan Verweerderes sou verduidelik het in twyfel te trek nie. Daarenteen het Verweerderes en Muller glad nie beindruk as getuies nie. Hulle weergawes is deurgaans verander en aangepas sodra hulle gekonfronteer was met getuienis wat die teendeel bewys.
Verweerderes is nie ‘n oningeligte persoon nie. Sy is in besit van ‘n
matrieksertifikaat en het daarna ‘n sekretariële kursus voltooi waarna
sy vir 16 jaar werksaam was voordat sy huisvrou geword het.
Alhoewel sy nie aktief betrokke was in haar man se besigheid nie
was sy bewus daarvan dat hy in ‘n finansiële verknorsing was.
Verweerderes se skoonmoeder moes eers ‘n beperkte borgstelling
11
teken alvorens Eiser verdere krediet aan Muller verleen het. Daarna
was pogings aangewend om ‘n tweede verband te registreer op die
eiendom van Verweerderes. Toe dit nie suksesvol was nie, was daar
besluit dat Verweerderes die borgakte sou onderteken.
Verweerderes weet wat die word “borg” beteken asook die woord
“sessie”.
Ek het geen twyfel dat Verweerderes op die stadium toe die borgakte onderteken was, wel deeglik bewus was van die aard en omvang van die borgstelling, en dat sy willens en wetens die borgakte onderteken het in ‘n poging om Muller se besigheid te red.
Bygevolg vind ek dus dat Verweerderes haar nie van die bewyslas gekwyt het dat sy nie gebonde gehou moet word aan die borgakte nie.
In die omstandighede word die volgende bevel gemaak.
1. Vonnis word verleen teen Tweede Verweerder te gunste
van Eiser in die bedrag van R148 671,86 plus rente teen ‘n
koers van 22% vanaf 29 September 2000, sodanige rente
maandeliks bereken en gekapitaliseer.
2. Tweede Verweerder word gelas om die koste van die geding te betaal op die skaal soos tussen prokureur en kliënt.3. Sophie Bezuidenhout word as ‘n noodsaaklike getuie verklaar.
12
________________________C.C WILLIAMS REGTER
Nms. Eiser : Adv. J.G Van Niekerk i.o.v. Engelsman Benade & Van der Walt
Nms. Verweerderes: In Persoon
Datum van verhoor: 1315/05/2003
Datum van uitspraak: 24/10/2002
13